Landdros Pieter Manthatha het Bushi Sithole op Dinsdag 28 Julie tot ses jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van die besit van dwelms. Hy is in November 2018 deur die polisie aangekeer met 75 pakkies nyope in sy besit. Die hof het tydens sy verhoor gehoor dat laboratoriumuitslae aandui dat heroïen een van dié nyope se bestanddele was.
Volgens senior staatsaanklaer Renier van Rooyen kan ernstige dwelmoortredings, soos die besit van heroïen, ’n minimumvonnis van 15 jaar beteken.
- Die gebruik van nyope is landwyd ’n probleem. Dié dwelmmiddel is ’n dodelike konkoksie van dwelms en ander stowwe en laat die gebruiker hallusineer. Die mengsel bestaan dikwels uit betanddele soos rotgif, derdegraadse heroïne, skoonmaakmiddels, batterysuur, antiretrovirale medisyne wat vir HIV-pasiënte bestem is en dagga of tabak.