CrimeNews

Aikona vir onwettige grondbesetters

’n Groep besorgde inwoners van die dorp het op Sondag 19 Julie na die Bela-Bela-polisiestasie opgeruk waar hulle daadwerklike optrede van die polisie én die munisipaliteit geëis het.

Die mense wat tydens die grendeltydperk onwettige sinkstrukture in die Koppewaai-omgewing langs die Alma-pad aan die buitewyke van Bela-Bela oprig, het Dinsdagmiddag (21 Julie) die wind van voor gekry toe hulle deur die polisie se spesiale eenheid vir openbare orde (Pops) gedwing is om onwettige strukture te verwyder.

’n Groep besorgde inwoners van die dorp het op Sondag 19 Julie na die Bela-Bela-polisiestasie opgeruk waar hulle daadwerklike optrede van die polisie én die munisipaliteit geëis het.

Die onwettige besetting het aanvanklik begin op die privaat grond (Erf 1492) wat aan die Polokwane-sakeman Steve Bosch behoort, maar dit het intussen uitgebrei na munisipale grond. Bosch is volgens die Bela-Bela-munisipaliteit “onopspoorbaar” en volgens Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het die onus aanvanklik op Bosch gerus om ’n saak van betreding te open.

Die gedeelte reg teenaan die Tuin Tuiste-aftreeoord, asook die stuk veld oorkant die teerpad (wat tot teenaan die Renaissance-aftreeoord en die dorpsreservoirs strek) behoort egter aan die munisipaliteit. Die munisipaliteit het in Junie ’n hofbevel bekom dat onwettige plakkers nie strukture op dié gedeelte mag oprig nie nadat druk op hulle toegepas is.

Grondbesetters was egter die afgelope naweek fluks besig om ook “erwe uit te lê” op dié grond.

Talle inwoners kla die afgelope ruk vergeefs dat honderde bome op dié stuk munisipale grond gestroop word vir vuurmaakhout en dat die onwettige storting van huishoudelike vullis in die veld onhigiënies en onwelriekend is en ’n gesondheidsgevaar inhou. Drawwers, stappers en fietsryers — wat al jare lank die Alma-pad vir ontspanning, oefensessies en kompetisies gebruik — sê ook die huidige vullisstorting, rook, toename in verkeer, onwettige padstalletjies wat opgerig is en honde wat hulle bestorm, wek diepe kommer by hulle.

Die groep besorgde inwoners het Sondag buite die polisiestasie byeengekom en daarop aangedring dat die munisipaliteit ’n klag teen die grondbesetters lê. Van die inwoners het gesê hul veiligheid word bedreig en die waarde van hul eiendom sal daal indien daar nie werk gemaak word van die onwettige besetting nie.

Angie Serote, munisipale regsverteenwoordiger, en Mosito, was teenwoordig by die polisiestasie. Volgens sers. Frans Maponya, polisiewoordvoerder, het Serote daarna ’n klag van betreding teen die besetters gelê.

Die Pos het betroubaar verneem dat die moontlikheid ondersoek word dat ’n wykraadslid van Bela-Bela betrokke is by die onwettige besetting. Die munisipaliteit wou nie op dié bewering reageer nie, maar Tinus Ras, DA-raadslid, het aan Die Pos gesê dit is die waarheid en dat dié raadslid dit openlik aan hom én aan die polisie erken het. Ras het gesê daar word reeds stappe teen die betrokke raadslid geneem.

Volgens Ras het die munisipaliteit mondelingse goedkeuring daarvoor verleen dat die gedeelte naaste aan Tuin Tuiste, asook die gedeelte oorkant die teerpad, omhein word, maar daar word nog gewag op die skriftelike toestemming daarvoor. Dié projek word privaat gefinansier, het hy gesê. Die oprigting van die heinings sou volgens hom na verwagting teen die einde van dié week begin het.

Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), het by navraag gesê daar is ernstige druk uit die Bela-Bela-gemeenskap dat belastingbetalers hul diensterekeninge laat sal betaal indien die Bela-Bela-munisipaliteit nie nou daadwerklik optree nie. Hy het gesê die doel met dié drastiese stap is om die munisipaliteit te dwing om sy plig na te kom en in inwoners se belang op te tree. Ander regsopsies word ook oorweeg indien dit nie gedoen word nie, het hy gesê.

Marcelle Maritz, provinsiale leier van die Vryheidsfront-Plus, se hulp is teen druktyd deur talle inwoners versoek.

  • Verskeie inwoners het Die Pos gekontak om te hoor waar hulle regshulp as groep kan inwin, asook hoe en waar hulle geldelike bydraes en selfs mannekrag kan lewer vir die oprigting van die heinings indien die munisipaliteit nie die geld of kennis daarvoor het nie. Desirée van der Walt, DA-LP, het teen druktyd gesê enige navrae in dié verband kan direk aan haar gerig word by desireevdw@da.org.za of dvanderwalt@parliament.gov.za of per Whatsapp na tel. 082 452 0444.

Related Articles

Back to top button