CrimeNews

Misdaad hou buurtwaglede besig

Sedert die AfriForum-buurtwagte in Junie weer toestemming gekry het om met patrolliewerk voort te gaan, is heelwat voorvalle ondersoek waarvan verskeie tot inhegtenisnemings gelei het.

’n Woordvoerder van die Matlabas-buurtwag het aan Die Pos gesê misdadigers het hulle beslis nie aan die inperking gesteur nie en verskeie voorvalle van wildstroping is in die omgewing aangemeld. ’n Renoster is tydens een van die voorvalle in ’n reservaat gestroop en spore van stropers is in ’n ander reservaat gevind.

Opvolgwerk is deur die reservaatpersoneel gedoen, maar geen verdagtes kon opgespoor word nie. Ondersoeke duur voort.

In nog ’n voorval is vyf mense in hegtenis geneem nadat ’n boer van Makoppa ’n klagte by die polisie ingedien het van wildstropers wat met honde op sy plaas jag. Daar is op ’n Bantam-bakkie beslag gelê. Die verdagtes word in die polisieselle in Thabazimbi aangehou.

In nog ’n voorval het die buurtwag groot sukses behaal toe daar op ’n groot hoeveelheid dagga op ’n plaas in die Dwaalboom-omgewing beslag gelê is.

Twee verdagtes is tydens die ondersoek deur die Hoopdal-polisie aangekeer met ’n groot hoeveelheid dagga in hul besit en by nadere ondersoek is daar vasgestel dat die verdagtes glo planne gehad het om die dagga na Botswana te smokkel.

’n Vermeende dief is ook in hegtenis geneem nadat ’n berig vanaf die MEGS-internet diensverskaffer ontvang is rakende ’n verdagte wat glo besig was om by die toring by Rossouwspoort in te breek. Die verdagte is aankeer danksy die vinnige optrede van die Thabazimbi-polisie, ’n helikopter wat ingespan is en Proto-spanlede wat ontplooi is. Gesteelde goedere ter waarde van R7 500, wat met ’n vorige saak verband hou, is teruggevind.

Die buurtwag het ook ’n groot rol gespeel in die verlening van tegniese hulp aan verskeie polisie- eenhede rakende georganiseerde en geweldsmisdaad. Verskeie mense is aangekeer en ’n gesteelde voertuig is teruggevind en by die Thabazimbi-polisiestasie besorg.

In nog ’n saak het buurtwaglede ook ’n rol gespeel in die opsporing van ’n gesteelde voertuig. Die gegewens is wyd op die buurtwag se stelsels versprei en die voertuig is daarna deur buurtwaglede van Marken en Villa Nora opgespoor. Die polisie het twee verdagtes in hegtenis geneem wat steeds in aanhouding in die Lephalale-polisieselle is.

Related Articles

Back to top button