CrimeNews

Munisipaliteit sê plakkers is op privaat eiendom

Grondgrype in die omgewing van Koppewaai op die Alma-pad buite Bela-Bela het al meer inwoners diep bekommerd.

Die Bela-Bela-munisipaliteit hou egter vol dat hulle die situasie dophou en dat daar nié onwettig op munisipale grond geplak sal word nie. Daar is geen dienste in dié uitbreiding nie wat ’n reusegesondheidsgevaar inhou.

Grondverskuiwingsmasjiene is op Woensdag 17 Junie in dié omgewing gewaar en het talle inwoners warm onder die kraag gehad. Inwoners is veral bekommerd dat dié onwettige uitbreiding die waarde van hul eiendomme kan beïnvloed.

 

Op die foto (regs) kan die sinkstrukture gesien word wat op die nuut skoongemaakte erwe by Koppewaai langs die Alma-pad buite Bela-Bela is.

 

Die Pos het sedert die grendeltyd geskryf oor grondgrype buite Bela-Bela, Modimolle én Mookgophong.

Die betrokke stuk grond buite Bela-Bela (Erf 1492) behoort aan Steve Bosch, ’n sakeman van Polokwane. Dit is links van die teerpad naby die Tuin Tuiste-aftreeoord geleë. Volgens aanduidings kom grondgrype sedert Maart vanjaar op die eiendom voor en wend Bosch geen poging aan om dit te keer nie.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Daar is ’n oop stuk grond tussen die Tuin Tuiste-aftreeoord en Bosch se grond, asook aan die regterkant van die teerpad, wat volgens ’n kaart van die Bela-Bela-munisipaliteit se ruimtelike ontwikkelingsraamwerk aan die munisipaliteit behoort. Dié gedeelte staan bekend as Erf 1492, gedeelte 25. Daar word nié tans op dié grond geplak nie en volgens die munisipaliteit sal hulle dit ook nie toelaat nie. Hulle sê egter hulle het nie beheer oor wat op privaat grond gebeur nie.

Daar was in 2017 groot opslae toe lede van die EFF wel ’n deel van gedeelte 25 probeer beset het. Vinnige optrede uit die gemeenskap het egter die besetting gestuit en die hulp van die polisie ingeroep en klagtes van betreding is teen die oortreders gelê.

Tinus Ras, DA-raadslid, het aan Die Pos bevestig dat daar planne was om ’n retensiedam op gedeelte 25, bokant Tuin Tuiste, te bou, maar weens die munisipaliteit se finansiële toestand is dit onduidelik of hierdie planne gou sal realiseer.

Ras het voorts gesê daar is ook vermeende grondgrype in die Bela-Bela-township, die Masakhane- en Tsakane-nedersettings, asook in Pankop. Hy het gesê opportuniste gebruik die grendelstaat om grond onwettig te beset. Die meeste van dié grond behoort wel aan die Bela-Bela-munisipaliteit. Tsakane behoort egter aan die Waterberg-distriksmunisipaliteit.

Nog ’n grondgryp het in Maart op sakeman, Fred van Heerden, se grond in Spa Park plaasgevind. Dit is gekeer nadat Van Heerden die situasie by die polisie aangemeld het.

Volgens Ras is daar gerugte dat grondgrype fyn beplan word en ’n politieke speelbal geword het.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê die munisipaliteit kan nie optree as die besetting op privaat grond plaasvind nie, maar hy het bygvoeg dit is “opvallend dat Bosch reeds geruime tyd niks doen om dié onwettige optrede te probeer stuit nie.”

“Die regering het dit beleid gemaak dat niemand tydens die grendelstaat van ’n eiendom verwyder mag word nie, wat sake verder bemoeilik,” het Mosito gesê.

Ras verskil egter hiervan. Volgens hom is die munisipaliteit se regsadviseurs opdrag gegee om alle regsopsies te oorweeg om die grondgrype in die gebied te keer.

Teen druktyd het die besetting al hoe nader aan Tuin Tuiste-aftreeoord gekruip. Sinkstrukture is aangebring op die skoongemaakte erwe.

  • Die VF Plus het die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (Cogta), Lebogang Maile, versoek om dringend in te gryp by ʼn onwettige grondbesettingaksie in die Emfuleni-munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging).

Sowat 400 onwettige strukture is op munisipale grond opgerig waar plakkers in haglike omstandighede woon sonder enige munisipale dienste.

Die VF Plus is ook besorg oor ʼn ander grondbesetting-geval waar tientalle plakkers hulle op sewe kleinhoewes in De Deur, Midvaal, gevestig het. Grondeienaars is bekommerd dat die besetters kan vermeerder en onwettige grondbesetting na aangrensende privaat grond uitbrei.

Die VF Plus het die gebied besoek en die aangeleentheid met die Midvaal-burgemeesterslid van ontwikkeling en beplanning bespreek. Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het ook hulp aan die eienaars aangebied.

Die VF Plus is van mening dat owerhede en howe meer toeganklik moet wees vir grondeienaars om onwettige grondbesetters van hul eiendom te verwyder aangesien baie eienaars nie die nodige fondse het om duur regskostes aan te gaan nie.


Baie dankie aan André Kock en Seun sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button