CrimeNews

Boewe slaan toe op Vetkoek Den in Bela-Bela

“Inbrekers het reeds vier keer tydens die inperking by my perseel ingebreek.”

Garies Nortjé, eienaar van die Vetkoek Den in Lunaweg, Bela-Bela, het vroegoggend op Vrydag 15 Mei die jongste slagoffer van booswigte geword.

Nortjé was die oggend besig om ’n bestelling vir kliënte voor te berei toe twee vreemde mans hom buite sy perseel ingewag het. Een van die skurke het ’n handwapen op hom gerig en op al sy waardevolle items aangedring, het Nortjé aan Die Pos gesê. Hulle is weg met die kontant wat hy by hom gehad het. Albei het gesigmaskers gedra.

Die rowers het daarna te voet gevlug.

“Inbrekers het reeds vier keer tydens die inperking by my perseel ingebreek. Hierdie twee jong mans wat my beroof het, was die vorige dag by die onderneming om waarskynlik te kom kyk hoe sake staan voordat hulle die volgende dag toegeslaan het.”

Nortjé, ’n voormalige polisiebeampte, het gesê hy het besluit om die rowers in sy voertuig agterna te sit.

Ander sake-eienaars het hom in die strate gesien op en af jaag agter een van die verdagtes aan en het hulp aangebied.

Een verdagte is naby Talisman in die dorp se sentrale sakesektor aangekeer, maar die ander een het weggekom. Nortjé het gesê daar is bevind dat die een wat aangekeer is, gewapen was.

Die polisie het die verdagte daar in hegtenis geneem.

Nortjé het gesê hy skat die twee verdagtes is tussen 20 en 21 jaar oud.

“Sake-eienaars moet wakker wees, veral wanneer hulle hul persele soggens oopsluit en smiddae weer toesluit,” het Nortjé gesê.

Related Articles

Back to top button