CrimeNews

Vermeende brandstofdief aangekeer

Sakelui wat moontlik ingeloop is deur ’n jong man wat onlangs aangekeer is weens die beweerde diefstal van brandstof, word gevra om die Modimolle-polisie te kontak.

Die verdagte word volgens die polisie verbind met sake in Modimolle, Vaalwater en Laersdrift.

Die 24-jarige Lenn Roy Jofner is op Woensdag 29 April in Supa Quick in Modimolle in hegtenis geneem toe hy glo duisende rande se motorbande wou koop. Die polisie was reeds sedert die vorige dag op soek na hom nadat ’n vulstasie in die dorp ’n klag gelê het. Jofner het glo op Vrydag 17 April diesel in sy voertuig gegooi, maar kon nie daarvoor betaal nie, het brig. Matlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoordvoerder, aan Die Pos gesê.

Die vulstasie het die verdagte glo herhaaldelik onsuksesvol gekontak om te betaal.

Die polisie het tydens Jofner se inhegtenisname op vervalste diamante en R200-note, juwele en metamfetamien, beter bekend as “crystal meth”, afgekom wat glo onder sy voertuig se sitplek versteek was, het Mojapelo gesê.

Jofner het reeds op Donderdag 30 April vlugtig in die Modimolle-streekshof verskyn.

Sy aansoek om borg sal op Dinsdag 12 Mei aangehoor word. Hy verskyn op aanklagte van bedrog, diefstal, besit van vervalste geld, dwelmhandel, besit van vermoedelik gesteelde eiendom en vervalsing van geld.

Mense met inligting kan sers. Amanda Rossouw, ondersoekbeampte, bel by tel. 071 133 8524.

Related Articles

Back to top button