CrimeNews

Drie moordverdagtes verskyn weer in hof

Drie verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met die onlangse moord op Alwyn van Zyl (78) het vanoggend (Woensdag 1 April) in die hof in Mookgophong verskyn.

Slegs twee familielede van die vermoorde en Die Pos se verslaggewer was in die galery teenwoordig.

Dit was die derde keer dat hulle verskyn het. Die hof het vanoggend beslis dat die drie nie in aanmerking kom vir borgtog nie weens die erns van die aanklagte teen hulle.

Al drie is volgens die hof Zimbabwiese burgers wat nie vaste woonadresse het nie.

Tatenda Mongwenya (32), Loyd Madumba (28) en Yaganias Saga (30) is aangekla van huisbraak, poging tot moord, moord, besit van gesteelde goedere en die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie.

Die drie is aangekeer nadat Van Zyl op Vrydag 20 Maart op die plaas Badseloop buite Mookgophong vermoor is. Daar is aanvanklik vermoed dat hy versmoor het, maar volgens die familie toon die nadoodse ondersoek dat hy met ’n lap of kussing verwurg is. Van Zyl se vrou kon daarin slag om weg te kom en hulp te ontbied.

Van Zyl is drie dae later in die familiebegraafplaas op Badseloop begrawe. Dr. Willis Knipe, ’n vorige predikant van die NG Kerk in Mookgophong en boesemvriend, het die begrafnisdiens gelei in die teater by die kampterrein. Weens die wetgewing rakende die Covid-19 virus is ’n beperking geplaas op die aantal mense wat die begrafnis kon bywoon.

Die eerste van Zyls het in 1885 op die plaas Vischgat (Badseloop) vanuit die Moltino-distrik in die Vrystaat aangekom. Alwyn se pa, Vic van Zyl, en sy vrou, Vicky, het in 1950 sowat 10 outydse morg as jeugkampterrein aan die NG Kerk geskenk.

Die familie het aan Die Pos gesê hulle is verlig oor die hof se besluit. Die ondersoek duur voort. ’n Vierde verdagte is nog op vrye voet.

Related Articles

Back to top button