CrimeNews

Inwoners van Mookgophong (Naboomspruit) besef dalk nie erns van die situasie

Hoewel die strate van Mookgophong (Naboomspruit) heelwat stiller as ’n gewone Vrydagoggend is, wil dit tog voorkom asof nie al die inwoners die erns van die Covid 19-inperkingsbevel verstaan of gehoorsaam nie.

Met Die Pos se aankoms vanoggend in die hoofstraat was daar verskeie mense wat rondgedwaal het en by navraag nie regtig ’n geldige rede gehad het vir hul teenwoordigheid in die dorp nie. Self ’n tuinier was nog fluks aan die werk.

Arrie Oppermann en Trevor Webster van die plaaslike verkeersafdeling was op hul poste voor Naboom Toyota en het hul kommer teenoor Die Pos uitgespreek oor die hoeveelheid voertuie en voetgangers in die dorp.

“Ons het vyf tieners voorgekeer wat op pad bank toe was. Slegs een het ’n bankkaart gehad en ons het die res summier huis toe gestuur. Wat verstaan die mense nie?” het Webster gevra.

 

 

Die woonbuurt was redelik stil met hier en daar inwoners wat al vroeg in die tuin doenig was.

Geen Weermag-voertuie is opgemerk nie. Een inwoner het die hoop uitgespreek dat plattelanders nie afgeskeep sal word wanneer dit by wetstoepassing kom nie. Noodsaaklike dienste soos die kliniek is oop en ’n groep mense is buite die gebou opgemerk.

Volgens Opperman is daar gister ’n groot aantal Gauteng-voertuie in die dorp opgemerk waarvan die meeste op pad was na die noorde van Limpopo. Een van die kruide­niers­winkel­eienaars in die dorp het aan Die Pos gesê dit was die afgelope twee dae die besigste ooit.

Die Pos in Mookgophong sal lesers op hoogte hou van die toestand in die dorp en in die woongebiede.

Related Articles

Back to top button