CrimeNews

Betoging ruk hand uit

’n Groep betogers, wat hulself die Bela-Bela Community First-gemeenskapsorganisasie noem, het op Donderdag 12 Maart voor die Bela-Bela-munisipaliteit saamgedrom om hul misnoeë oor ’n lys munisipale sake te toon.

Wat veronderstel was om ’n vreedsame protesoptog te wees, het baie vinnig in ’n gevaarlike situasie verander. Die Bela-Bela- en provinsiale-polisie moes ingryp en traangas en rubberkoëls gebruik om die skare onder bedwang te bring nadat klippe na die polisie geslinger is.

Die betogers het brandstof in die straat uitgegooi en aan die brand gesteek. Kort daarna is ’n stopstraatbord beskadig, ’n industriële vullisdrom voor SuperSpar omgekeer en verkeersligte en asblikke het ook deurgeloop.

’n Rubberkoël het glo ’n betoger teen die agterkop getref en van die omstanders het hom na die Bela-Bela-kliniek gehaas.

Ses betogers is in hegtenis geneem op aanlagte van openbare geweld en aanhitsing tot geweld.

Katlego Molekoa (31), David Monare (19), Piet Nkadimeng (27), William Makgobela (20), Tumelo Sebola (19) en John Mokhonoana (30) het op Maandag 16 Maart in die Bela-Bela-landdroshof verskyn. Hulle is vrygelaat en gewaarsku om weer op Maandag 20 April in die hof te verskyn.

Die betogers het aan Die Pos gesê hulle is in opstand oor swak dienslewering, munisipale korrupsie, wanadministrasie en nepotisme.

In die memorandum wat aan Jeremiah Ngobeni, burgemeester oorhandig is, kla die betogers oor sake soos krag wat afgesny word, watermeters wat foutief is, onbekostigbare lewenskoste vir hulpbehoewendes, munisipale kontrakte waarin buitestanders voordeel trek en nie die gemeenskap nie, werkloosheid onder die jeug en dat niks gedoen word om dwelmverslawing in die gemeenskap hok te slaan nie.

Die betogers is ook bekommerd oor die hoeveelheid geld wat die munisipaliteit die afgelope tyd in hofsake verloor het.

Die betogers het geëis dat ’n nuwe ouditeursfirma aangestel word om sake by die munisipaliteit te ondersoek en dat diegene wat tot verliese aan inkomste vir die munisipaliteit bygedra het, die geld terugbetaal.

Die groep het ook antwoorde geëis oor bewerings dat bedrog van R1,7 miljoen deur sekere amptenare gepleeg is.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het in reaksie gesê die groep het die reg om hul besware deur ’n wettige betoging bekend te maak.

Die groep het vooraf toestemming van die munisipaliteit en die polisie daarvoor bekom.

“Ons is besig om deur die memorandum te werk en die burgemeester het kennis geneem van die besware. Ons sal binne sewe dae antwoorde op die vrae kan bied,” het Mosito gesê.

Related Articles

Back to top button