CrimeNews

Al hoe meer troeteldiere word vergiftig

Boosdoeners het die afgelope drie maande talle honde op plase in die Settlers-, Turffontein-, Noodhulp- en Roodepoort-omgewing vergiftig en daarna voertuie of ander items gesteel.

Volgens inligting van die Bela-Bela-polisie word daar vermoed dat ’n sindikaat agter dié misdade sit.

Die gifstof AldiCarb (bekend as Temik) word vermoedelik gebruik. Die gebruik van Temik word reeds sedert 2010 in verskeie lande, waaronder Suid-Afrika, verbied.

Volgens Henk van de Graaff, voorsitter van die Waterberg DLU en TLU Noord-voorsitter, word die middel AgLogic 15G ook gebruik.

“Die probleem is dat geen voorskrif benodig word wanneer mense dit aankoop nie en dié gif kan dus maklik bekom word. Daar is ook ’n moontlikheid dat ou voorraad Temik in die verkeerde hande beland het en nou deur misdadigers misbruik word.” Hy het gesê boere moet die gifstowwe in hul store met groot verantwoordelikheid bestuur.

“Hierdie soort misdade word deeglik beplan en die betrokke plase word vir ’n hele ruk dopgehou. Die aanvalle word gewoonlik uitgevoer deur verdagtes van buite die gebied wat inligting van werkers verkry het,” het hy gesê.

Dr. Gerhard Verdoorn, toksioloog van die Griffon Gifstof-inligtingsentrum, het by navraag gesê Temik word nie in lande soos Zimbabwe verbied nie en daar is al bevind dat mense hierdie gifstof oor die grens smokkel en aan sindikate verkoop.

“Booswigte meng gewoonlik die gif met vleis en slinger dit saans oor heinings wanneer die huisbewoners slaap.”

Temik is grys en korrelagtig en het ’n onaangename, skerp reuk. Verdoorn het gesê die ander gifstowwe wat in misdade gebruik word, sluit in Carbofuran (blou- na perskleurig), Terbufos (die kleur van karamelsuiker) of Methomil (lyk soos wit babapoeier).

Volgens Verdoorn sluit simptome van ’n dier wat vergiftig is die volgende in: oormatige speekselafskeiding, naarheid en braking, bewerigheid, vernoude pupille, duiseligheid, verlamming, asemnood of versnelde hartklop.

Indien eienaars gou optree, kan die hond se lewe gered word. Kleiner honde se kanse op oorlewing is egter skraler as groter honde s’n.

Verdoorn gee die volgende raad vir eienaars wat vermoed hul diere is vergiftig:

  • Skakel dadelik ’n veearts. Temik en Methomil neem ongeveer 42 uur om ná behandeling uitgeskei te word, terwyl Carbuforan en Terbufos langer neem.
  • Stel die polisie in kennis van voorvalle.
  • Om braking aan te help, kan die eienaar ’n ertjie-korrelgrootte waspoeier in die hond se keelgat afdwing. Dit moet egter nie gedoen word indien die hond reeds verlam geraak het nie. Die hond moet geen melk gevoer word nie, want dit laat die gif vinniger versprei.
  • Voer die hond geaktiveerde houtskool saam met water. Die dosis vir klein honde is 10 tablette, vir mediumgrootte honde 20 en 40 vir groot honde.
  • Ná behandeling sal die dier baie dors wees. Gooi ’n bietjie sout (ongeveer 0,9 g per liter) in die water wat as elektroliet sal dien.
  • Lesers is welkom om vir Verdoorn ’n e-pos te stuur na nesher@tiscali.co.za of hom te bel by tel. 082 446 8946.

Related Articles

Back to top button