CrimeNews

Strate versper ná man se mesdood

Een van die betogers het gesê die mense is ontsteld, want inwoners wil self met die verdagte afreken.

Brandende bande het die afgelope week die N1-snelweg en toegangsroetes na Mookgophong versper en honderde woedende inwoners het opgeruk na die polisiestasie.

’n Njala-polisievoertuig en ’n polisiebeampte se bakkie is beskadig toe dit op Maandag 25 November met petrolbomme bestook is.

Sakeondernemings was genoop om hul deure te sluit toe die sowat 400 oproeriges die strate ingevaar het.

Die ongelukkigheid spruit volgens kol. Mape Kekana, stasiebevelvoerder van die Mookgophong-polisie, uit die dood van ’n 27-jarige man op Saterdagaand 23 November.

Die man is glo by Koos Tavern in Tswelopele One, Sektor 1, met ’n mes doodgesteek. Volgens Kekana het twee mans stry gekry in ’n voorval wat moontlik alkoholverwant was. Nie een van die twee mans is nog geïdentifiseer nie. Die 21-jarige verdagte is binne enkele ure ná die voorval in hegtenis geneem.

Een van die betogers, wat anoniem wou bly, het aan Die Pos gesê die mense is ontsteld, want inwoners wil self met die verdagte afreken. Hy is glo al verskeie kere aangekla, maar word telkens op borgtog vrygelaat.

Kekana het gesê die man is wel al voorheen van moedswillige saakbeskadiging aangekla. Dié saak is nog nie afgehandel nie. ’n Klein groep ontevredenes van Sektor 1 het op Sondag 24 November die strate ingevaar en ondernemings gedwing om hul deure te sluit.

Die aggressiewe groep mense het op Mokone OK Grocer toegesak omdat ’n familielid van die verdagte glo elders vir die eienaar van dié onderneming werk verrig.

Die hulp van die Modimolle-polisie se onluste-eenheid is daarna ingeroep.

Kekana het gesê hy het ook die groep by die verdagte se ouerhuis gaan toespreek en probeer om gemoedere te kalmeer.

“Ek het die mense gevra om die polisie ’n kans te gee om hul werk te doen en dat die reg sy loop moet neem,” het hy gesê.

Volgens hom was dit moeilik om met die groep te onderhandel omdat daar nie ’n leier na vore getree het nie.

Die Maandagoggend, toe die verdagte in die hof moes verskyn, was die gort egter gaar en is die snelweg en toegangsroetes versper. Ontstelde inwoners het by die polisiestasie saamgedrom waar Kekana hulle weer probeer paai het, het hy aan Die Pos gesê. Hulle het daarna hof toe gestap waar die polisie gevra het dat die hekke gesluit moet word.

Die groep het ’n memorandum aan die landdros oorhandig en hulle is later in die hof toegelaat. Die groep het egter oproerig geraak en die verdagte kon nie verskyn nie, het Kekana gesê. Die man het wel later die dag verskyn.

Die woedende mense is toe glo terug na die polisiestasie waar die Njala-voertuig en Kekana se bakkie onder petrolbomme deurgeloop het. Niemand is in die voorval beseer nie, hoewel die voertuie beskadig is.

Die skare is terug na die township waar hulle die snelweg versper het. Alle verkeer moes noodgedwonge deur Thabo Mbekiweg na die R101 herlei word. Bakstene en ander voorwerpe is van die brug af op die snelweg gegooi, het Kekana gesê.

Die polisie en gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) was tot laat Maandagnag sigbaar. ’n Hoë polisieteenwoordigheid is by skole in Sektor 1 gehandhaaf. Die polisie is op Dinsdag 26 November weer by skole ontplooi om te verseker dat leerders eksamen kan skryf.

Die verdagte, wie se naam nog nie bekend gemaak is nie, bly in aanhouding by ’n onbekende polisiestasie totdat hy op Woensdag 8 Januarie in die hof in Mookgophong op aanklag van moord sal verskyn. Geen van die oproeriges is in hegtenis geneem nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button