CrimeNews

Lasbrief uit vir man wat hof ontduik

’n Lasbrief is uitgereik vir die in hegtenisname van ’n man wat aangekla is van die ontvoering van ’n skoolmeisie van Modimolle, asook klagte wat verband hou met ’n seksuele oortreding met ’n minderjarige.

Die 49-jarige man se identiteit word weerhou om die minderjarige kind te beskerm.

Die beskuldigde het tydens ’n vorige hofdatum aangevoer dat sy voertuig onklaar was en dat hy nie die hofverrigtinge kon bywoon nie. Hy het egter ook nie op Maandag 18 November in die hof in Modimolle verskyn nie en sy regsverteenwoordiger het aangedui dat hy hom glad nie in die hande kon kry nie.

Die regsverteenwoordiger het homself aan die saak onttrek.

Landdros Pieter Manthata het gelas dat ’n lasbrief uitgereik word en dat die beskuldigde se borgtog op Vrydag 6 Desember finaal verbeurd verklaar word.

Die man is in Junie verlede jaar op ’n plaas in die Lichtenburg-omgewing aangekeer waar hy in ’n tent saam met die minderjarige meisie geskuil het. Hy het die polisie maande lank ontduik.

Inwoners in die omgewing het onraad vermoed en die polisie gekontak.

Related Articles

Back to top button