Hendrik van der Merwe, wat jare lank in die omgewing boer, het op Donderdag 14 November sy 32ste bees in twee jaar op dié manier verloor.
“Die skade wat hulle Woensdag aangerig het, beloop sowat R45 000,” het hy moedeloos gesê.
Volgens hom het die veediewe al op Maandagnag 4 November probeer om van sy diere te steel of dood te maak.
Die beeste wat in ’n kraal gejaag is, het gelukkig uitgebreek, maar op Maandag 11 November het hy opgemerk dat die drade weer geknip is.
Drie beeste is op Donderdag 15 November in die veld gevind met strikke om hul nekke. Een van die beeste het ’n kapwond aan die kop gehad.
Die werkers het ná ’n ruk laat weet dat nog ’n bees by die kraal gevind is. “Ek het drie dragtige koeie daar dood gevind.
By een van die diere is net ’n blad en boud afgesny. Die een koei was swaar dragtig en sou binne twee weke gekalf het,” het hy gesê.
Al drie die diere is waarskynlik met ’n byl doodgekap. Van der Merwe en boere wat hom kom help het, het die drie veediewe se spore gevolg tot by die N1-snelweg, oor die treinspoor tot by die township.
Daar is egter niks by die huis gevind waar die spore geëindig het nie.
Volgens Van der Merwe is drie onbekende mans op Vrydag 15 November in ’n skuur by sy huis opgemerk.
Hulle het laat spaander, maar die spore wat hy gevolg het, het nie ooreengestem met die spore van die veediewe nie. Een van die drie mans is deur die plaaswerkers herken. Hy was glo een van vier mans wat ’n ruk gelede oor die draad by ’n buurman gespring het.
Van der Merwe het gesê buiten die beeste wat doodgemaak of gesteel word, het hy in die verlede ook deurgeloop onder diewe wat kabels en ander toerusting gesteel het. “’n Mens raak moedeloos,” het hy gesê.
Niemand is nog aangekeer in verband met die dood van die drie beeste nie.