CrimeNews

Weduwee in hof ná jagter se skietdood

Chrisna van der Merwe (40), wat daarvan aangekla word dat sy haar man, Botes (46), verlede jaar in hul slaapkamer in die Koro Creek-gholflandgoed buite Modimolle doodgeskiet het, het op Woensdag 13 November vir die eerste keer in die hof verskyn.

Botes se ouers, Jan en Janie van der Merwe, sy twee dogters uit ’n vorige huwelik, Celiné en Jané, en familie en vriende het die verrigtinge in die Modimolle-streekhof bygewoon.

Chrisna staar klagtes van moord en diefstal in die gesig nadat Botes in Desember verlede jaar met noodlottige skietwonde aan sy borskas aangetref is. Die lykskouing het glo bepaal dat hy dood is aan ’n skoot in die hart.

Chrisna is inderhaas per helikopter vir mediese behandeling geneem met ’n skietwond in die maag. Die polisie het op twee wapens op die toneel beslag gelê, het Die Pos kort ná die voorval berig. Sy is ná etlike dae uit die hospitaal ontslaan.

Die staat voer nou in die klagstaat aan dat die skietvoorval gebeur het nadat die Van der Merwes saam met gaste gekuier het. Die egpaar het gaan slaap en skote is kort daarna gehoor. Die staat beweer dat Chrisna haarself geskiet het.

Die diefstalklag spruit daaruit dat sy glo 10 dae ná sy dood R141 000 uit Botes se rekening onttrek het. Botes het Hunting Safaris bedryf waarvan die kliënte meestal buitelandse jagters was. Die egpaar is oorspronklik van Vaalwater. Dit was albei se tweede huwelik.

Die skraal, donkerkopvrou het uitdrukkingloos geluister toe staatsaanklaer Renier van Rooyen die klagtes aan haar voorgelees het. Sy is bygestaan deur haar suster en ’n vriendin. Sy word verteenwoordig deur dr. Llewelyn Curlewis, wat hoog geag word in strafregkringe. Hy gee klas aan die Universiteit van Pretoria se regsfakulteit.

Landdros Hannes Stoffberg het haar gewaarsku om weer op Maandag 17 Februarie in dieselfde hof te verskyn. Sy mag geen kontak met enige van die staatsgetuies maak nie.

Piet Hattingh, Botes se neef, het ook die verrigtinge bygewoon. “Ons is as familie hier om die hofproses te ondersteun. Ons wil baie graag sien dat geregtigheid geskied,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button