CrimeNews

Houtsnyers voor stok gekry

Die Modimolle-polisie ontvang geruime tyd reeds klagtes oor onwettige houtsnyers, veral in die Middelfontein-omgewing.

Die afgelope week is drie vermeende onwettige immigrante op ’n plaas in die omgewing in hegtenis geneem nadat hulle glo die perseel betree en onwettig hout gesny het.

Een van die kettingsae wat hulle gebruik het, is volgens AO James Findlay, vermoedelik onlangs by ’n onderneming in die dorp gesteel. Die eienaar van die ander kettingsaag kon nog nie opgespoor word nie.

Die houtsnyers is in hegtenis geneem op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

“Hierdie sukses is die gevolg van goeie opvolgwerk deur AO Pieter Booyse,” het Findlay gesȇ.

Vroeër vanjaar het ’n ander grondeienaar in dieselfde gebied gekla dat mense met ’n hele vloot bakkies langs hul grond stilhou en vragte vol hout onwettig sny. Nadat die inwoner weer betreders betrap het, het hy twee klagtes by die polisie ingedien.

Die Pos het in Mei vanjaar berig dat die vuurmaakhout wat langs paaie verkoop word, dikwels inheemse bome is wat onwettig afgesaag word. Houtsmouse wat hout binne die munisipale grense verkoop, moet permitte van die munisipaliteit hê.

Indien hul houtstalletjies buite die dorpsgrense is, is ’n permit van Sanral, die nasionale padagentskap, nodig. Enige smous sonder ’n permit kan beboet word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button