Die egpaar, Rick (31) en Mandy Botha (31), het vroeër in die hof verskyn op aanklagte van bedrog en diefstal nadat hulle luidens die klagstaat altesame R401 813,22 van die boerdery gesteel het.
Die staat het beweer hulle het bankrekeninge vir plaaswerkers geskep, maar die kontant in die rekeninge vir hulself aangewend.
Die plaas behoort aan die Germishuys-familie. Die Botha-egpaar het vir ’n tyd op die plaas gewerk.
Die egpaar is aanvanklik op Maandag 15 Oktober 2018 in hegtenis geneem en het in die Bela-Bela-landdroshof verskyn. Die saak is daarna na die Modimolle-streekhof oorgeplaas.
Die hof het borgtog van R2 000 elk aan die Bothas toegestaan.
Volgens die polisie is die saak intussen voorlopig teruggetrek omdat daar uitstaande inligting is wat moet deel vorm van die ondersoek. Sodra die ondersoek voltooi is, kan die saak moontlik weer op die hofrol geplaas word.