CrimeNews

Politieke leier in sop oor k-woord in video

Maritz ontken dat sy die k-woord gebruik het.

’n Video waarin Marcelle Maritz, provinsiale leier van die Vryheidsfront Plus (VF Plus) en ’n lid van die provinsiale wetgewer, oënskynlik na die Afrikaanse Protestantse Kerk (AP Kerk) as die kerk sonder “k*****s verwys, het haar in kookwater laat beland nadat die DA kriminele klagtes teen haar gelê het.

In die video sit Maritz oënskynlik saam met twee ander mense in ’n kantoor en daar word in ’n lighartige gesprek gelag en gesing. Dit is in dié gesprek, waar daar na haar verwys word as ’n “kerkmeisie”, dat die gewraakte aanmerking glo gemaak is. Iemand wat langs haar sit het vermoedelik die video onderlangs geneem, hoewel dit voorkom asof Maritz dit op ’n stadium raakgesien het.

Die DA het op Donderdag 26 September kriminele klagte teen Maritz by die Makhado-polisie aanhangig gemaak. Die party het in ’n mediaverklaring gesê hulle het haar ook by die menseregtekommissie aangekla en aan die Limpopo-wetgewer se etiekkomitee geskryf om die saak te ondersoek.

Hoewel die VF Plus in ’n mediaverklaring beweer dat die video vyf jaar gelede geneem is, sê die DA die tydstempel op die video dui aan dat dit in 2017 geneem is terwyl Maritz die VF Plus se leier in Limpopo en ’n raadslid in die Mogalakwena-munisipaliteit was.

Maritz ontken dat sy die k-woord gebruik het.

Die VF Plus het gesê hul leierskap sal die aangeleentheid intern ondersoek om hulle van die waarheid te vergewis. “Die VF Plus is sterk gekant teen enige vorm van rassisme van enige kant van die samelewing en sal sterk optree indien nodig,” het die party gereageer.

Volgens die DA het die fluitjieblasers gesê die video is in 2017 geneem. Die ooggetuie wat die video verskaf het, het ’n verklaring afgelê met die voorwaarde dat haar identiteit beskerm word.
Maritz is die VF Plus se enigste verteenwoordiger in die Limpopo-wetgewer.

Maritz het by navraag aan Die Pos gesê sy gaan nie op hierdie stadium kommentaar op die bewerings lewer nie. “Ek het nie die woord gebruik nie en sal later my saak stel. Dit is duidelik ’n heksejag en ek sal dit so hanteer.”

Die Pos het in Januarie vanjaar oor Maritz berig toe sy gebiede in Modimolle wat deur rioolprobleme geteister is, besoek het en daarna ’n kriminele klag teen die waarnemende munisipale bestuurder, Mapule Makoko, gelê het.

Related Articles

Back to top button