CrimeNews

Inbrekers slaan troetelslang dood

’n Gesin van Mook­go­phong was geskok toe hulle tuis­kom en ’n geplunderde huis aantref.

Katrien van Niekerk, haar man James Vol­schenk, en Van Niekerk se seun, Magnus, huur die afgelope drie jaar ’n huis op ’n plaas buite Mook­go­phong. Die huis is naby die N1-snelweg en is op Vrydag 20 Septem­ber deur inbrekers ge­teiken.

Volgens Magnus, ’n matri­kulant van Hoër­skool Hans Strijdom, het hy ná die matriek­afskeid die vorige aand by ’n vriend oor­geslaap aangesien sy ouers meubels vir iemand na Kosibaai ver­voer het. Hulle het teen onge­veer 08:00 vertrek en daarna was niemand tuis nie.

“Ek het die Vry­dag­aand seker so 22:00 tuis­ge­kom en op die chaos afge­kom,” het hy gesê.

Die inbrekers het die huis ge­plunder op soek na vermoe­delik geld en waarde­volle items. Al Magnus se klere, skoene en ’n resies­fiets is gebuit. Hy is ook baie hart­seer oor sy troetel­slang wat met ’n water­kan dood­geslaan is. Hy het nóg ’n giftige slang in ’n glas­kas, maar dié is onge­deerd.

Die inbrekers het ’n groot ruit van Mag­nus se slaap­ka­mer stuk­kend geslaan om in te kom en by ’n kom­buis­venster uitge­gaan. Die gordyne is stuk­kend geskeur en ’n ou plate­speler is ge­breek. ’n Antieke buffet se deur­tjies is stuk­kend geskop.

“Hulle het tot Magnus se rugby­trofeë gebreek en in stuk­kies gelaat,” het Katrien aan Die Pos vertel.

Twee woon­waens wat by die agter­deur staan, se vensters is gebreek, maar niks is gesteel nie.

Van die gesteelde klere en enkele items is buite in die bosse op­getel.

Talle mense in die om­gewing het sken­kings aan die gesin gemaak nadat die nuus van die inbraak op ge­meen­skaps­groepe gedeel is. Magnus het geen skool­klere vir die laaste kwartaal van sy skool­loop­baan nie en selfs sy penne­sakkie met sak­reke­naar is weg.

’n Vriend van die gesin, Buks Viljoen, het hulle intussen gehelp om die dief­wering te vervang.

Teen druktyd was die boos­wigte nog op vrye voet.

Related Articles

Back to top button