CrimeNews

Veiligheid eerste vir Gholfparkers

Inwoners van Gholf­park in Mook­go­phong het op Maan­dag 16 Septem­ber ’n veilig­heids­ver­ga­de­ring by die Na­boom Tuiste vir Be­jaardes byge­woon.

AO George Ledwa­ba, media- en GPF-ver­teen­woordiger, het aan in­woners gesê die dorp is nie meer die­selfde wat dit in die tagtiger­jare was nie. Daar is baie mense in die dorp wat nie goeie bedoe­lings het nie en daarop uit is om ouer mense te beroof of te na te kom, het hy gemaan.

Ledwaba het ’n paar goue reëls aan in­woners voorgehou. Hy het inwoners gewaar­sku oor ’n nuwe slenter van boos­doeners om voor te gee dat hulle eien­domme wil koop, maar dan net rond­loer om te kyk waar hulle later kan in­breek. “Moenie deure en vensters oop los of waarde­volle arti­kels naby vensters neer­sit nie,” het hy gesê.

Dit is ook belang­rik om veilig­heids­deure gesluit te hou. Hy het bejaar­des aange­raai om liefs die dorp teen maand­eindes, asook Vrydae en Saterdae, te vermy en uiters versig­tig te wees wan­neer hulle banke besoek. Voorts het hy gewaar­sku teen skelms wat afstand­beheer­toe­stelle gebruik om te keer dat voer­tuie behoor­lik sluit.

Hy het daarop gewys dat daar dees­dae talle misdaad­ver­wante voor­valle in Thabo Mbeki­straat aan­gemeld word en versoek dat mense enige ver­dagte optrede, soos byvoor­beeld voer­tuie wat doel­loos op en af ry, by die plaas­like gemeen­skaps­polisiërings­forum (GPF) of polisie aan­meld.

Volgens Philip van Staden, wat deel van die GPF in die dorp is, is daar sowat 40 GPF-reaksie­lede wat binne minute op ’n nood­op­roep kan reageer.

Die verga­dering het ten einde besluit om ’n veilig­heids­valhek (“boom”) by die in­gang van Gholfpark aan te bring om die toe­gang van voer­tuie en voet­gangers te beheer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button