’n Vrou van Modimolle wat vroeg Vrydagoggend 30 Augustus aangeval is terwyl sy by ’n stopstraat stilgehou het, sê sy kry nou nog rillings as sy aan die voorval dink.
Charmaine Wolmarans se motordeur is oopgeruk toe sy by die stopteken in Vosstraat stilgehou het voor sy in Kerkstraat wou indraai. “Dit het alles so vinnig gebeur. My deur is oopgeruk en daar is na my motorsleutels gegryp. Ek het uit skone skok net gery om weg te kom. Ek het eers later besef my arm bloei,” het sy gesê.
Sy het na haar suster wat daar naby werk gery, wat haar na die F.H. Odendaal-hospitaal geneem het sodat sy die nodige inspuitings kon kry.
“My hand en arm is vol krapmerke. Ek is nie seker waarmee die man my aangeval het nie. Party mense sê dit lyk soos merke wat ’n staalborsel of dalk spykers kon gemaak het. My motor is vol bloed aan die binnekant. Ek is net bly ek is nie in my gesig of nek seergemaak nie.”
Wolmarans het gesê dis eers toe sy weggetrek het dat sy gesien het daar is ’n tweede man naby haar motor.
“Ek voel nou baie onveilig as ek ry en vertrou niemand nie,” het sy gesê. Wolmarans is ’n tuisverpleegster en werk dikwels tot laat wanneer sy pasiënte versorg.
“Ek ry nou ompaaie sodat ek nie weer naby daardie deel kom nie.” Sy het eers agterna besef dat ’n pak volwasse doeke van een van haar pasiënte uit haar motor gegryp is.
Die voorval is nie by die polisie aangemeld nie.