CrimeNews

Hartseer en skok ná moord op diereliefhebber

“Sy is erg in die gesig aangerand. Dit was baie ontstellend.”

“Trudie, ag waar is my ou Trudie?”

Die verswakte Dolf Grebe (75) se stem het yl opgeklink voor die huis waar sy vrou Trudie (73) enkele ure vantevore wreed vermoor is.

Dolf Grebe word ondersteun deur sy buurvrou Mollie Vermaak en Elize Sauer, ’n maatskaplike werker. Foto: Herman Steyn

 

Die tragedie het op Vrydagoggend 23 Augustus in Emmastraat, Modimolle afgespeel nadat sy vroegoggend in haar tuin oorval is. Trudie was ’n geliefde inwoner van die dorp en be-kend vir haar slag met diere — sy het troeteldiere tydens vakansietye opgepas, honde geskeer en ook tot enkele maande gelede ’n troeteldierwinkel op die dorp bestuur.

Een van haar kliënte het vroegoggend onraad vermoed toe sy by die Grebes se huis opgedaag het om ’n hond af te laai, het AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, aan Die Pos gesê. ’n Vreemde man het glo uitgestap en gesê dat niemand tuis is nie en in die straat afgeloop. Die vrou het ’n vriend geskakel om saam met haar by die huis in te gaan. Hulle het op Trudie se liggaam in die tuin afgekom.

Benjamin Sithole van die DBV het die hondjies wat verskrik in die Grebes se huis rondgehardloop het, gevang. Die diere is in veilige bewaring by die DBV in Mokopane.
Foto: Herman Steyn

 

Volgens Findlay het sy wonde aan haar hande en lyf gehad. “Sy is erg in die gesig aangerand,” het hy gesê. Lede van die speurtak, ’n taakspan wat in dié misdade spesialiseer en die forensiese eenheid was gou op die toneel. Volgens van die polisielede teenwoordig was dit ’n baie ontstellende gesig. ’n Mes is op die toneel gevind.

Verskeie leidrade is opgevolg en spanne is wyd ontplooi om die verdagte vas te trek. Teen druktyd op Dinsdag 26 Augustus was die verdagte nog op vrye voet. Sy identiteit is aan die polisie bekend. Daar word bespiegel dat hy voorheen tuinwerk vir die Grebes gedoen het.

Talle klein hondjies het verskrik in die Grebes se huis rondgehardloop. Vrywilligers van die DBV, sowel as polisielede en bure het gehelp om die diere te vang sodat hulle by die DBV versorg kan word. Op die foto is sers. Coen Bessinger.
Foto: Herman Steyn

 

Dolf, wat tydens die voorval in die huis was, het eers besef wat gebeur het nadat die polisie opgedaag het. Hy is verswak en hardhorend. Die Grebes se enigste seun, Rudi, is in 2015 oorlede en die egpaar het nie ander nabye familie nie.

Twee buurvroue waarmee hulle bevriend was, Mollie Vermaak en Hannetjie de Groof, het hulle oor Dolf ontferm. Elize Sauer, ’n maatskaplike werker, het vir hom plek in die Waterberg Residentia-ouetehuis gereël, hoewel Vermaak hom dié week nog by haar huis versorg het.

Benjamin Sithole van die dierebeskermingsvereniging (DBV) en vrywilligers in die dorp het 14 erg verskrikte hondjies uit die Grebes se huis verwyder. Trudie het na van die diere omgesien en ander is glo weggooihonde wat sy ingeneem het. Een van die hondjies is as troos vir Dolf teruggehou. ’n Verskeidenheid voëls, ’n haas en krimpvarkies is ook deur inwoners in veilige bewaring geneem totdat hul eienaars opgespoor kon word, het Cheryl Oosthuysen, ’n vrywilliger by die DBV, bevestig. Inwoners wat diere het wat by Trudie tuisgegaan het, kan Oosthuysen bel by tel. 084 506 8504.

Die Modimolle-polisie is op soek na Morris Maripa (51) wat hulle behulp­saam kan wees in die onder­soek na die moord op die bejaarde Trudie Grebe op Vry­dagoggend 23 Augustus. Enig­een met inligting kan die onder­soek­beampte, sers. Amanda Rossouw, bel by tel. 071 133 8524.

 

Die veiligheidsgroep Wasps het ’n beloning van R10 000 uitgeloof vir enige inligting wat lei tot die in hegtenisneming en suksesvolle vervolging van Trudie se moordenaar.

Related Articles

Back to top button