Volgens sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het beamptes op Donderdag 4 Julie na die Noodhulp-hoewes gery om die verdagte, Alexander Ryan Robson (30), in hegtenis te neem.
Robson is aanvanklik gesoek in verband met ’n aanrandingsaak.
Die polisie het sy huis tydens sy inhegtenisname deursoek en op verskillende soorte dagga, wat verpak was, afgekom.
“Hoewel hy die polisie probeer oortuig het dat hy dit vir persoonlike gebruik aangehou het, was die hoeveelheid en die feit dat die dagga verpak was, verdag,” het Maponya gesê.
Die grondwethof het vroeër bekendgemaak dat mense dagga in die privaatheid van hul wonings mag gebruik.
Hoewel die hof geen uitspraak gelewer het oor die hoeveelheid dagga wat mense in hul besit mag hê nie, kan polisiebeamptes ingevolge dié uitspraak self bepaal of iemand in hegtenis geneem moet word weens die besit en moontlike verspreiding van dwelms. Die hoeveelheid wat gevind word, dui in die meeste gevalle aan of dit vir privaat gebruik is of nie, het Maponya gesê.
Die parlement moet nog wysigings aan die wet bekragtig.
Robson het reeds in die Bela-Bela-landdroshof verskyn op twee aanklagte van aanranding en een klagte vir die besit en verspreiding van dwelms.
Die hofsaak is uitgestel na Vrydag 12 Julie. Hy is steeds in aanhouding.