CrimeNews

Soektog na hond kry vreemde kinkel

Die Jacobs-gesin van Mook­go­phong het die afge­lope week ’n bisarre onder­vin­ding gehad nadat iemand ver­moe­delik hul troetel­hond sonder hul mede­wete ver­koop het.

Die gesin was rasend van be­kommer­nis toe hul geliefde diere­kind, Maximus, of Max soos hulle hom noem, ’n plekkie agter in hul erf gekry het om uit te kom en die strate inge­vaar het.

Volgens Desiree Jacobs het Max, ’n pit­boel­terriër, reeds twee keer tevore uit hul erf gekom terwyl bouers op ’n aan­gren­sende erf ’n muur opge­rig het. Die Jacobs-gesin het toe voor­sorg getref dat Max nie weer kan ont­snap nie, maar hulle het nie met Max se vin­ding­ryk­heid tred gehou nie.

“Ons het hom elke keer vinnig opge­spoor en huis toe geneem, maar op Donder­dag 20 Junie kon ons hom nie kry nie. My ma het Donder­dag­oggend ’n oproep ontvang om te sê dat Max in die strate ronddwaal en ons het dadelik gery om na hom te gaan soek. Ons kon hom nêrens kry nie,” het Desiree se dogter, Jeanette Jacobs, gesê.

Jacobs en haar seun, Stephan, het tot in die bos­agtige dele van die dorp gesoek en her­haalde­lik op sosiale media foto’s geplaas in die hoop om hom te kry, maar tever­geefs.

In ’n laaste poging het Desiree besluit om plak­kate by al die vul­stasies in die dorp op te sit en ’n belo­ning van R3 000 aange­bied.

Sy het die plakkate gedruk en op Maan­dag 24 Junie begin versprei. By die tweede plek waar sy was, ’n vul­stasie in Euphor­bia Park, het een van die petrol­joggies wat die gesin goed ken, hulp aange­bied en sy het toe­stem­ming gevra om ’n foto in hul venster aan te bring.

“Toe hy die foto van Max sien, het hy dadelik vir my gesê dat Max by hom is. Ek het gedink dat dit nie moontlik kan wees nie. Ek was heel ver­stom toe hy weer sê dat hy die hond het,” het sy aan Die Pos vertel.

Nadat die joggie van diens af is, is die gesin saam met hom na sy huis in sektor 1 waar hulle Max onge­deerd gekry het. Max was wel vas­gebind, maar het kos en water gekry. Die petrol­joggie het ook te kenne gegee dat hy ’n bietjie bang was vir Max en daarom het hy hom vasge­maak.

Volgens die petrol­joggie het hy op Donder­dag 20 Junie, ’n onbekende man met Max gesien loop en hom gevra of hy die hond kon kry. Die man wou eers niks weet nie, maar het later die hond teen R150 aan hom ver­koop. Hy het Max daarna huis toe geneem.

“Ons harte loop oor van dank­baar­heid aan elke liewe persoon wat gehelp het om na Max te soek. Hy is waar­lik deel van ons gesin. Ons is verstom oor hoeveel mense hulp aan­gebied het. Ek wil die Naboom Diere­besker­mings­groep spesiaal bedank. Ek het soveel respek vir hulle toewy­ding en omgee vir diere. Hulle het ons ondersteun en ons kan nooit genoeg dankie sê nie,” het die Jacobs-gesin op Face­book geskryf.

“Ek is seker dat Max ook dankie sou sê, want hy is baie bly om tuis te wees,” het Jeanette gesê.

Volgens ’n inwoner wat ano­niem wil bly, moet honde­-eienaars hul diere veilig hou, want in baie gevalle word hulle in honde­gevegte gebruik.

Related Articles

Back to top button