CrimeNews

Brandstigting vermoed ná lapa afbrand

’n Brand wat by ’n huis in Bela-Bela ontstaan het, het vir ’n paar benoude oomblikke in een van dié dorp se die woonbuurte gesorg.

Die brand het op 20 Junie om 10:00 vermoedelik op die sypaadjie van ’n huis op die hoek van Hospitaal- en Stoffbergstraat ontstaan, maar gelukkig nie verder versprei nie.

Die bure het die brand gewaar en die dorp se brandweerdiens, sonder sukses, probeer kontak. Die Bela-Bela-munisipaliteit se landlyne was buite werking.

Die lapa wat deur die vuur verswelg is.

 

Thipe “Budda” Dlamini, hoof van risikobestuur by die munisipaliteit, is toe direk gekontak waarna ’n brandweerwa en noodpersoneel sonder versuim uitgestuur is.

Daar is twee geboue op die erf, ’n grasdaklapa en ’n klein rondawel, deur die brand in puin gelê. Die nooddienste het voorkom dat die brand versprei en geen aanliggende geboue is beskadig nie.

’n Man, net bekend as Sello, woon alleen op die erf. Hy is deur die brandweer wakker gemaak en het geskok toegekyk hoe die brand geblus word. Dit was egter nie nodig om die woonhuis te ontruim nie aangesien die brandweer die brand betyds geblus het.

Die huiseienaar, Ahmed Bhamjee, verhuur die woning. Hy was kort ná die brand van Johannesburg af onderweg.

Bhamjee het met sy aankoms aan Die Pos gesê : “Ons tuinvullis was buite die muur, aan die straat se kant, en dit is baie naby waar die lapa was. Ek dink iemand het die vullis aan die brand gesteek en toe spore gemaak.”

Omliggende inwoners het gesê dat daar gereeld hope tuinvullis op dié sypaadjie lê en dat dit baie onooglik is.

Bhamjee het gesê hy beoog om ’n saak van brandstigting by die polisie te open.

Die munisipaliteit het vroeër aan Die Pos gesê dat hulle nie tuinvullis van inwoners verwyder nie, maar slegs huishoudelike vullis wat in swartsakke geplaas is.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het vroeër gesê dat mense ’n boete van R1500 opgelê kan word sou hulle hul vullis op ’n onwettige wyse stort. Die munisipale stortingsterrein is toeganklik vir almal. Inwoners is egter van mening dat dit gevaarlik vir vroue en senior burgers is om die terrein te besoek.

Related Articles

Back to top button