Die Bela-Bela polisie vermoed dat die moord op ’n inwoner van die Bela-Bela-township op Donderdag 16 Mei verband hou met die aanhoudende struwelinge tussen lede van die plaaslike International Pentecostal Holiness Church (IPHC).
Dit is volgens die polisie die tweede voorval waarby lede van dié kerk betrokke is.
Sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het aan Die Pos gesê Lepu Abel Matlanga (43) is koelbloedig doodgeskiet.
Matlanga het glo op die dag van sy dood saam met drie ander mans voor sy spazawinkel in Uitbreiding 8 in die township gesit en gesels.
’n Onbekende man met ’n klapmus oor sy kop het glo vanuit die niet op die groep afgestorm en op hulle losgebrand. Matlanga is raakgeskiet waarna die skieter op die vlug geslaan het.
“Hy het op die toneel aan sy beserings beswyk,” het Maponya gesê.
’n Saak van moord word ondersoek.
- Die Pos het in Maart berig oor ’n skietvoorval in die Radium-omgewing waartydens ’n persoon gewond is.Die polisie het destyds gesê die voorval hou verband met ’n geskil onder lede van die IPHC oor die eienaarskap van die grond waarop die kerk gevestig is
Niemand is nog in verband met enige van die twee voorvalle in hegtenis geneem nie, het Maponya gesê.
Enigiemand met inligting oor die voorval in Uitbreiding 8 kan vir AO André van de Venter bel by tel. 014 736 9713 of by tel. 083 604 1673.