CrimeNews

Man ry glo weg van ongelukstoneel

“Alles het so vinnig gebeur — ek het ’n doef-geluid gehoor en toe rol ons.”

’n Vinnige rit skool toe om kinders op te laai het ’n lelike nadraai vir twee ma’s van Modimolle gehad ná ’n botsing waarin erge skade aan hul voertuie veroorsaak is.

Die bestuurder van die motor wat vermoedelik die ongeluk veroorsaak het, het ná die ongeluk van die toneel verdwyn.

Anndeline van Staden is geskok op die ongelukstoneel in Thabo Mbekiweg in Modimolle. Die bestuurder van die motor wat voor haar ingedraai het, het glo weggery van die ongelukstoneel af.

Linda Olivier het gesê sy was op pad terug huis toe van Laerskool Nylstroom af met haar twee kinders, Matthew (13) en Anneke (5), in die motor. Anndeline van Staden was op pad om haar kinders te gaan haal. Die ongeluk het in Thabo Mbekiweg voor die NG-kerk gebeur.

“Ek het vanaf die Total-vulstasie se kant af na die skool toe gery toe ’n motor uit Kroepstraat, net bokant dr. Mich Veldman se spreekkamer, voor my indraai. Al wat ek kon doen om ’n ongeluk te probeer vermy, was om uit te swaai,” het Van Staden gesê. Van Staden se Ford Focus het teen Olivier se GWM-nutsvoertuig, wat van voor af gekom het, gebots. Olivier se voertuig het op sy sy te lande gekom.

Lin­da Oli­vier en haar twee kin­ders het groot ge­skrik na­dat hul voer­tuig ge­rol het. An­der ouers wat ook hul kin­ders by die skool op­ge­laai het, het stil­ge­hou om te help.

 

“Alles het so vinnig gebeur — ek het ’n doef-geluid gehoor en toe rol ons. Matthew is die een wat kop gehou het. Ek was vir ’n paar sekondes lank uit en hy het my bygebring.

Hy het die motor se stuurwiel gesluit sodat hy daarop kon trap om bo by die passasiersvenster uit te klim. Ek kon vir Anneke, wat baie groot geskrik het, daarna vir hom aangee,” het Olivier gesê.

Behalwe vir kneusplekke is niemand ernstig beseer nie.

“Die voertuig wat voor my ingery het, het na Mookgophong se rigting gedraai en net aangehou ry ná die ongeluk.

“Daar was gelukkig twee ooggetuies wat gesien wat gebeur het,” het Van Staden gesê. “Ons het baie ondersteuning gekry van mense wat stilgehou het. Dit het baie gehelp omdat ons baie bewerig en geskok was.”

Volgens die polisie is daar nie ’n saak geopen nie omdat niemand ernstig beseer is nie. Daar is wel ’n ongeluksverslag opgestel.

Teen druktyd was Olivier en Van Staden nog nie seker wat die skade aan hul voertuie beloop nie, maar het vermoed dat albei moontlik afgeskryf sal moet word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button