CrimeNews

Vervoerkontrakteur van Bela-Bela stap as vry man uit die landdroshof

Danie van der Westhuizen, ’n vervoerkontrakteur van Bela-Bela, het as ’n vry man uit die Bela-Bela-landdroshof gestap nadat hy op Donderdag 18 April vrygespreek is op aanklagtes van diefstal en moord.

Van der Westhuizen is verlede jaar saaam met sy pa, Hardus van der Westhuizen, aangekla van die diefstal van trokbande. Hy is ook afsonderlik aangekla van die diefstal van voertuigonderdele.

Hy is voorts in Desember 2018 van moord aangekla nadat sy pa onder vreemde omstandighede in ’n Mokopane-hospitaal oorlede is. Die polisie het aangevoer dat Hardus glo voor sy dood erg aangerand is.

Die hof het borgtog van R1 000 aan Danie toegestaan op die twee diefstalklagte en R5 000 op die moordklag.

Die hof het aan die begin van April die diefstalaanklagte teen Van der Westhuizen uitgestel vir mediasie. Dit blyk uit hofrekords dat daar ’n ooreenkoms tussen Danie en die klaers in die saak bereik is wat tot die terugtrek van die klagtes gelei het.

Die moordklag is die afgelope week óók teruggetrek.

Kapt. Annemarie Smith, waarnemende speurtakhoof, het by navraag gesê die moordsaak is voorlopig teruggetrek omdat die nadoodse ondersoekverslag van Hardus se dood steeds onvoltooid is.

Sodra dié verslag voltooi is, sal ’n besluit oor vervolging, al dan nie, geneem word, het sy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button