CrimeNews

Saak van strafbare manslag ondersoek nadat Alma-vrou sterf

Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat ’n jarelange Alma-inwoner, Maria Putter (87), op Saterdag 16 Maart buite Settlers in ’n motorongeluk betrokke was en vyf dae later in die Life Eugène Marais-hospitaal in Pretoria oorlede is.

Putter en ’n jarelange vriend, Hannes Schulz, by wie sy in Alma gewoon het, het op die Saterdag die Settlers veteraantrekker- en -enjinklub se opedag bygewoon.

Hulle was ná die skou in ’n ongeluk by die Marble Hall/Settlers-kruising betrokke. Die Bela-Bela-polisie kon nie volledige inligting oor die ongeluk aan Die Pos verskaf nie.

Volgens ’n familielid het Schulz en Putter die ongeluk oorleef en sy is na die Phodi-kliniek in Bela-Bela vir behandeling geneem. Sy is uit dié hospitaal ontslaan, maar haar toestand het só versleg dat sy ’n paar dae later deur haar familie na die Life Eugène Marais-hospitaal gehaas is. Volgens ’n familielid is daar vasgestel dat sy bloeding op die brein gehad het wat waarskynlik as gevolg van die ongeluk was.

Putter is op Donderdag 21 Maart oorlede.

Haar begrafnis het op Saterdag 29 Maart vanuit die Afrikaanse Protestante Kerk (APK) in Modimolle plaasgevind.

Putter, wat in 1931 gebore is en deur die jare ’n betrokke gemeenskapslid was, het die afgelope 18 jaar in die Onderberg-gebied by Alma gewoon. Sy was ’n aktiewe Vroue Landbou-unielid (VLU) van die Alma- en Vaalwater-takke.

Haar kinders is dankbaar teenoor Schulz wat haar deur die jare getrou bygestaan het, asook teenoor Burt Gildenhuys wat haar tydens haar hospitalisering gehelp het.

Sy word oorleef deur haar vyf dogters, asook haar klein- en agterkleinkinders.

Related Articles

Back to top button