CrimeNews

Vermeende N1-rowers aangekeer

Die polisie het in die vroeë oggendure van Donderdag 4 April by die Kranskop-tolhek buite Modimolle toegeslaan en vyf vermeende rowers wat daarvan verdink word dat hulle al maande lank ’n skrikbewind onder motorryers op die N1-snelweg voer, aangekeer.

’n Paar onskuldige buitelanders wat op reis was het egter kort voor die inhegtenisname buite Bela-Bela deurgeloop.

Volgens sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het ses mense van Malawi kort voor 21:00 voertuigprobleme ondervind en naby die Settlers/Codrington-oorbrug van die snelweg getrek. Die groep was onderweg na Malawi met die oorskot van ’n persoon wat hulle in die buiteland wou laat begrawe.

Die vermeende rowers het skynbaar vanuit die bloute gekom, vuurwapens op hulle gerig en hulle van kontant en selfone beroof. Maponya het gesê niemand is ernstig beseer nie, hoewel die rowers die slagoffers met hul handwapens aangerand het voordat hulle op die vlug geslaan het.

Die slagoffers het hulp ontbied vanaf die nabygeleë Palm Plaza Caltex-vulstasie.

’n Gesamentlike operasie is daarna deur die Modimolle Cluster Trio-misdaadtaakspan, die misdaadintelligensie-eenheid, die nasionale intervensie-eenheid van Pretoria, asook lede van die Heritage Protection Group (HPG), uitgevoer om die verdagtes te probeer opspoor.

Kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die vyf verdagtes is om 03:30 by die tolhek vasgetrek.

Die polisie het beslag gelê op ’n rooi Volkswagen, drie handwapens, 31 rondtes patrone en vermoedelik gesteelde items.

Die verdagtes, Frans Baloyi (45), Figo Madisha (30), Siphosihle Tshepiso Mahlangu (31), Dennis Hoba (33) en John Fine (33), is aangekla van gewapende roof, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en afpersing, het Ngoepe gesê. Hulle is ook aangekla vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

Maponya het gesê sover vasgestel kon word, is Baloyi van Soshanguve en Madisha van Springs. Mahlangu, Hoba en Fine is vermoedelik Zimbabwiërs, het hy gesê.

Die vyf het op Vrydag 5 April in die Modimolle-landdroshof verskyn. Die saak is uitgestel na Maandag 15 April.

Die verdagtes sou ook na verwagting op Woensdag 10 April in die Bela-Bela-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met misdade wat glo in die Bela-Bela-omgewing gepleeg is.

Ngoepe het dié inhegtenisname as ’n reusesukses beskryf en gesê die vyf verdagtes word met 11 snelwegrooftogte tussen Modimolle en Bela-Bela verbind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button