CrimeNews

Man vas ná DBV beslag lê op 22 honde

“Mense glo dikwels dat alle honde wat gesteel word, vir hondegevegte gebruik word. Honde word egter ook as veiligheidshonde of aan agterplaastelers verkoop. Die honde wat vir gevegte gebruik word, is meestal uitsluitlik Amerikaanse pitboelterriërs, hoewel minder gesofistikeerde oortreders soms soortgelyke rasse soos boelterriers en staffies sal gebruik.”

’n Man wat vermoedelik by hondegevegte betrokke is, se tjank is vandeesweek afgetrap nadat die Modimolle-polisie, lede van die nasionale dierebeskermingsvereniging (DBV) en die Wasps-veiligheidsgroep sonder waarskuwing op sy eiendom toegeslaan het.

Die DBV het op Dinsdagoggend 9 April, beslag gelê op 22 honde en drie skilpaaie in ’n erf in Phagameng.

Daar was ook twee varke, het Meg Wilson, skakelbeampte van die DBV bevestig. Die varke sou deur die veediefstaleenheid verwyder word.

Die honde, meestal pitboelterriërs, boelterriërs en boerboele, was glo in ’n ontstel-lende toestand weens gevegsbeserings en ore wat vermink is, het sy gesê. Die diere is ook met parasiete besmet omdat hulle in haglike omstandighede aangehou is.

Lede van die Wasps-veiligheidsgroep het inligting wat hulle oor dié gevegte ontvang het toegewyd opgevolg en die DBV se span wat spesiaisleer in hondegevegte, sowel as die Modimolle-polisie, om hulp genader.

Die man staar moontlik aangeklagte in die gesig wat insluit die hou van onwettige hondegevegte, dieremishandeling, on-wettige jag en die onwettige besit van wildlewe.

Gerugte doen reeds jare lank die ronde dat hondegevegte in die omgewing plaasvind, maar tot dusver kon die polisie nie hond haaraf maak nie. Daar word voorts beweer dat die skuldiges gewaarsku word voordat die polisie toeslaan. Vandeesweek se deurbraak het gekom nadat ’n lid van die gemeenskap gekla het.

“Hondegevegte is ’n landwye probleem. Daar is duidelike tekens dat dit hier ook die geval is,” het Wilson gesê. “Hondegevegte is ’n misdaad wat ’n negatiewe impak op die gemeenskap het omdat dit so geweldadig is. Dit word dikwels verbind met ander misdade soos geweld en die mishandeling van vroue en kinders. Dit word wêreldwyd gesien as ’n aanduiding van toekomstige geweld teenoor mense,” het Wilson gesê.

“Hondegevegte is veral nadelig vir kinders wat daaraan blootgestel word, want dit verminder hul empatie en kan daartoe lei dat hulle self geweldadig word.”

Sy het gesê dat gemeenskappe moet saamstaan om dié soort misdade uit te roei.

“Mense glo dikwels dat alle honde wat gesteel word, vir hondegevegte gebruik word. Honde word egter ook as veiligheidshonde of aan agterplaastelers verkoop. Die honde wat vir gevegte gebruik word, is meestal uitsluitlik Amerikaanse pitboelterriërs, hoewel minder gesofistikeerde oortreders soms soortgelyke rasse soos boelterriers en staffies sal gebruik.

“Sulke misdadigers kry dikwels hul honde van advertensies van honde wat gratis aan ’n goeie huis gebied word of wat gesteel word.

“Kleiner soorte honde word nie vir hondegevegte gebruik of om veghonde uit te lok nie, soos wat mense dikwels glo nie. Die gebruik van kleiner honde om gevegshonde uit te lok, is skaars. Kleiner honde word meestal vir teeldoeleindes gesteel,” het sy gesê.

Sy beveel aan dat mense hul diere, veral pitboele, beskerm deur hulle te steriliseer. “Hondevegters maak die grootste wins wanneer daar met ’n wenhond geteel word en die kleintjies verkoop word. ’n Gesteriliseerde hond sal nie so aantreklik wees om te steel nie.

“Hou jou hond buite sig van die pad af. Pitboele kan baie hoog spring en maklik ontsnap. Laat jou hond toe om snags binne te slaap — dit is veiliger en versterk julle band. Diefstalle gebeur meestal snags. Moet nooit hoërisiko-honde sonder toesig in voertuie los nie, al is dit goed geventileer.”

Volgens Wilson word diegene wat skuldig bevind word aan dié misdaad, al was hulle net toeskouers, swaar gevangenisstraf en hoë boetes opgelê. Hulle kan ook belet word om in die toekoms diere aan te hou. “Daar is belonings aan diegene wat inligting verskaf wat lei tot die inhegtenisname en vervolging van sulke misdadigers,” het sy gesê. “Hulle bly anoniem. Inligting kan per e-pos gestuur word, of in ’n koevert of op ’n geheuestok-kie by die DBV se kantore afgelewer word,” het sy gesê.

Diegene met inligting kan tel. (011) 907 3590 skakel of ’n e-pos stuur aan die adres nspca@nspca.co.za(.)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button