CrimeNews

Hepburn se aansoek tot appèl geweier

Hoop op ’n tweede kans het die afgelope week vir Stephan Hepburn (41) vervaag nadat die Modimolle-streekhof sy verlof tot appèl geweier het.

Hepburn is tot ses jaar tronkstraf deur landdros Pieter Manthata gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan strafbare manslag. Dié klag het gevolg nadat hy die 23-jarige Jan Railo doodgeskiet het tydens ’n bosvarkjag in Februarie 2017 in die Tuinplaas-omgewing.

Hepburn het tydens sy verhoor gesê dat hy nie verwag het dat daar iemand in die mielieland sou wees nie omdat al die werkers op die plaas gewaarsku was dat daar gejag sou word. Hy het geskiet nadat hy beweging gesien het en geluide soortgelyk aan dié van ’n bosvark wat mielies breek, gehoor het. Railo, wat op ’n naburige plaas gewerk het, is op die toneel oorlede.

Die gerekende advokaat Mike Maritz het verlede week ’n tweeledige aansoek gebring om verdere getuienis te bring ter strafversagting asook verlof tot appèl op grond daarvan dat die vonnis onvanpas is. Landdros Pieter Manthata het die aansoek om verdere getuienis van die hand gewys.

In sy uitspraak het Manthatha gesê dat hy voel ses jaar is ’n gepaste vonnis.

“Die verdediging glo dat ’n volledig opgeskorte vonnis voldoende sou wees, maar ek glo dat dit skokkend onvanpas sal wees. Ten spyte van wat die verdediging aanvoer, het ek die feit dat hy 41 jaar oud is, ’n eerste oortreder is, vier kinders het en die broodwinner vir sy gesin is, in ag geneem,” het hy gesê.

Alhoewel Hepburn R50 000 vergoeding aan die slagoffer se ma aangebied het, het sy dit geweier en tydens haar getuienis vir ’n 20 jaar vonnis gevra,” het Manthata gesê. Hy het gesê dat hy nie tekens gesien het van rassisme of politieke inmengery soos wat beweer is nie.

“Daar is geen redelike vooruitsig dat ’n ander hof tot ’n ander beslissing sal kom nie,” het Manthata gesê.

Related Articles

Back to top button