CrimeNews

Van Tonder se saak uitgestel omdat hofrol ‘te vol’ is

Die hofrol was vol en die hof het besluit om ’n ander saak aan te hoor.

Herman van Tonder, eienaar van Mbizi Game Lodge & Spa buite Bela-Bela wat in 2017 aangekla is van die moord op sy vrou, Elrina, gaan ’n hele paar maande moet wag voor sy verhoor begin.

Sy saak is vanaf 4-8 Maart op die hofrol van die hooggeregshof in Lephalale geplaas.

Die hofrol was egter vol en die hof het besluit om ’n ander saak, dié van die moord op Cecil (83) en Pattie Peterson (73) van Bela-Bela, aan te hoor.

Van Tonder word daarvan aangekla dat hy Elrina in November 2014 by hul woning op Mbizi vermoor het. Hy het haar glo met beserings na die Phodi-kliniek (destyds die St. Vincent’s-hospitaal) in Bela-Bela ge-neem waar sy dood verklaar is.

Volgens die staat toon die nadoodse ondersoekverslag dat sy verwurg is.

Luidens die akte van beskuldiging het Van Tonder en sy vrou ’n onstuimige huwelik gehad.

Die Bela-Bela-landdroshof het kort ná sy inhegtenisname en hofverskyning R15 000 borgtog toegestaan met die voorwaarde dat hy weekliks by die polisiestasie aanmeld.

Sy regsverteenwoordiger het die hof in Augustus 2018 gevra om sy borgvoorwaardes te verlig omdat Van Ton-der op vakansie wou gaan. Die hof het die voorwaardes opgeskort, maar hy het nie sy paspoort teruggekry nie.

Sy saak is uitgestel na later vanjaar en sal waarskynlik tussen 4-15 November in Lephalale aangehoor word.

  • Die Petersons is in September 2017 op hul plaas buite die dorp aangeval en beroof. Pattie is in die maag en Cecil in die gesig geskiet. Sy is op die toneel oorlede en Cecil ’n paar weke daarna in die hospitaal.

    Die beskuldigdes in dié saak se verhoor duur in Lephalale voort tot Vrydag 15 Maart.

Related Articles

Back to top button