CrimeNews

Talle daag op om boer by te staan ná oproep

“Ons het ’n standpunt ingeneem dat dit nie so werk nie, want die wyse waarop die betreder okkupasie tot die grond probeer bekom het is uiters agterbaks en boonop onwettig.”

’n Enkele noodroep wat op Saterdag 2 Maart op die oorgrensveiligheid se Whats-app-groep geplaas is, het in ’n groot saamstaanoperasie ontaard nadat 150 beeste onwettig deur ’n vermeende betreder op ’n plaas noord van Vaalwater afgelaai is.

AfriForum, die Vryheidsfront Plus (VF+), die boeregemeenskap en veiligheidslede het op Donderdag 7 Maart ’n poging aangewend om die beeste na die skut in Mokopane te vervoer.

Jaco Grobbelaar, AfriForum se provinsiale distrikskoördineerder, het by navraag gesê die vermeende betreder het die plaas se drade en kettings geknip om die trop beeste daar te laat wei.

Die boer wie se grond dit is en wie se naam nie bekend gemaak is nie, is glo deur die betreder meegedeel dat die boer se grond regeringsgrond is en aan die betreder toegeëien is.

“Ons het ’n standpunt ingeneem dat dit nie so werk nie, want die wyse waarop die betreder okkupasie tot die grond probeer bekom het is uiters agterbaks en boonop onwettig,” het Grobbelaar gesê.

’n Helikopter is vroeg die oggend ingebring om die beeste bymekaar te maak. Vragmotors om die beeste te skut het later ook opgedaag en boere van so ver as Lephalale, Matlabas en Modimolle het bystand verleen wat die skut suksesvol deurgevoer het.

Daar is volgens AfriForum by ondersoek gevind dat heelwat van die beeste verskillende brandmerke op gehad het.

Volgens inligting van die polisie se veediefstaleenheid in Modimolle het 10 van die beeste oorspronklik aan ’n eienaar in Rankins Pas behoort en een bees is van die Zebediela-omgewing.

Die vermeende betreder, wat nog in die hof moet verskyn, staar aanklagte van betreding en veediefstal in die gesig.

Marcelle Maritz, VF+ leier in Limpopo, het by navraag gesê dié man het op Saterdag 9 Maart sy beeste by die skut in Mokopane gaan haal.

Hy was egter verplig om duisende rande vir die vervoerkoste na die skut, asook die daaglikse fooie van die beeste, per kop, op te dok.

“Die man kon geen bewyse toon dat hy wettig op die grond in Vaalwater mag wees nie,” het Maritz gesê.

Dit is Maritz, nes AfriForum se mening, dat ’n gesamentlike ondersteuningspoging, met die polisie se hulp, die enigste uitweg is om soortgelyke sake aan te pak. Sy het gesê boere moet ten alle tye bewus wees van wat in hul omgewing aangaan.

“Boere het nie geld om rond te gooi op hofsake nie,” het Maritz gesê.

Die skut in Mokopane kan direk gekontak word by tel. (015) 491 3661.

Related Articles

Back to top button