CrimeNews

Skote klap glo in Radium oor kerkgrond

Van die ooggetuies kon hoor hoe die koeëls verby hulle fluit, maar niemand het gesien wie geskiet het nie.

Radium-inwoners het op Donderdag 7 Maart gekoes en weggekruip nadat skote glo tussen inwoners begin klap het.

Ooggetuies het aan Die Pos gesê dit het gevoel asof hulle in die Wilde Weste is waar mense moet weghardloop om nie raakgeskiet te word nie.

Van die ooggetuies kon selfs hoor hoe die koeëls verby hulle fluit, maar niemand het gesien wie geskiet het nie.

Die ooggetuies beweer verder dat daar ook mense aangerand is.

Die Bela-Bela-polisie en lede van die Roodekuil, Turfbult en Langkuil-buurtwag (RTL) is inderhaas na die toneel, maar teen daardie tyd het die gemoedere bedaar en die amokmakers was nêrens te vinde.

Volgens kol. Abel Phetla, waarnemende Bela-Bela-polisiestasiebevelvoerder, het die skietery ontstaan weens ’n onderonsie tussen twee groepe van die International Pentecostal Holiness Church in Radium. Die kerk staan in die omgewing as die Modise Church bekend.

Dit blyk dat een groep van Hammanskraal die oggend by die kerk in Radium opgedaag het en stry gekry het met die ander groep wat reeds by die kerk se ingang was, het Phetla gesê.

Die ingang is glo deur veiligheidswagte bewaak.

Die twee groepe het glo op mekaar geskiet toe die Hammanskraal-groep probeer het om die eiendom te betree, het Phetla gesê. ’n Onbekende bejaarde man van die Hammanskraal-groep is in die been ge-wond, maar niemand anders is raakgeskiet of beseer nie.

“Die twee groepe het blykbaar gestry oor wie eienaarskap van die grond behoort te hê,” het Phetla gesê. “Niemand is in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.”

Die polisie is in die proses om ’n verklaring van die bejaarde man wat geskiet is te kry aangesien hy erg getraumatiseerd was en steeds mediese behandeling ontvang vir die skietwond.

Kabelo Mosito, woordvoerder van die Bela-Bela-munisipaliteit, het by navraag gesê die munisipaliteit sal navrae aan die stad- en streekbeplanner rig oor wie volgens munisipale rekords die eienaar van die grond is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button