CrimeNews

Man vergewe taxibetuurder wat hom die gebruik van sy bene gekos het

“Satekge het sy hart teenoor ons uitgestort en vertel hoe drasties sy lewe ook verander het.”

Lennie Aspeling van Mookgophong was op 18 November 2016 met sy motorfiets in ’n botsing met ’n minibustaxi betrokke, waarna sy hele lewe in ’n oogwink verander het.

Hy het weens die ongeluk die gebruik van sy bene verloor en is aan ’n rolstoel gekluister. Die Pos het dié week met Aspeling gesels oor sy ontmoeting met die persoon wat die minibus bestuur het.

Volgens destydse hofrekords was die voertuig van Roedtan af onderweg en het die bestuurder reg voor Aspeling ingedraai en die ongeluk veroorsaak. Frans Satekge het volgens sy eie getuienis op die noodlottige dag sy skoonpa, wat ’n begrafnis bygewoon het, gehelp deur die taxi vir hom te bestuur. Satekge het nie ’n wettige bestuurs-lisensie gehad nie.

Aspeling vertel dat hy en sy vrou, Marizaan, vir Satekge die eerste keer ná die ongeluk in Desember 2018 in die hof gesien het.

Die landdros wou van Satekge weet of hy al vir Aspeling verskoning gevra het, waarop hy nee geantwoord het.

“Die landdros het my ook gevra of ek dié man al vergewe het en ek het geantwoord dat ek en my vrou hom lankal vergewe het,” het Aspeling gesê.

Marizaan het ook bygevoeg dat daar nie vir hulle as Christene “genesing” kan wees as hulle nie vergewe nie en dat hul lewens moet voortgaan, ondanks die terugslag.

Satekge is tot ses maande tronkstraf gevonnis en was reeds gedurende daardie Desember in aanhouding.

In Januarie vanjaar het ’n beampte van die departement van korrektiewe dienste by die Aspeling-egpaar aangedoen en Lennie versoek om ’n vorm te teken waarin hy verklaar dat hy nie vir Satekge enige leed sal aandoen wanneer hy sy vonnis uitgedien het nie.

“Lennie het hulle die versekering gegee dat hy nooit so iets sal doen nie. Twee dae later het iemand van die departement gebel en gevra of ons bereid sal wees om Satekge te woord te staan,” het Marizaan vertel.

Die Aspelings het ingestem en die ontmoeting is op Vrydag 22 Februarie by die kantoor van die South African Social Security Agency (SASSA) in Mookgophong gereël.

“Satekge het sy hart teenoor ons uitgestort en vertel hoe drasties sy lewe ook verander het. Hy het sy werk verloor, sy gesondheid het agteruit gegaan en sy huwelik het daaronder gelei. Hy het ons verskoning gevra en ons kon sien dat hy regtig berou het,” het Marizaan vertel.

“Ons het oorkant die taxibestuurder gesit wat die oorsaak daarvan was dat ons lewens drasties verander het. Hy het sy hart uitgestort en verduidelik hoe jammer hy is. Ons kan net die Here dank dat ons nie op daardie oomblik aan ons eie omstandighede gedink het nie, maar aan ’n onverklaarbare vrede,” het sy vertel.

Marizaan het gesê sy is dankbaar teenoor haar man dat hy so ’n wonderlike, vredeliewende mens is. “Ek is supertrots op jou dat jy kan aanbeweeg en van die lewe ’n sukses wil maak.”

Related Articles

Back to top button