CrimeNews

Herverhoor moordsaak, hoor hof

Die hof in Modimolle het vandeesweek ’n aansoek aangehoor dat die saak teen vyf beskuldigdes wat aangekla word daarvan dat hulle ’n man in die Rooiberg-omgewing in 2015 vermoor het, herverhoor word.

Ruben Miles, JP Johannesse, Mona Oosthuizen, Christopher Joubert (Oosthuizen se seun) en Louisa Ricco se verhoor is sedert 2015 reeds herhaaldelik uitgestel. Die vyf, saam met Johan du Toit wat vir die staat getuig het, word daarvan beskuldig dat hulle die wildplaaseienaar Piet Venter (51) in November 2015 in sy huis vermoor het.

Daar is vroeër in die hof getuig die nadoodse ondersoek het getoon dat Venter versmoor is. Sy arms en bene was glo vasgebind en ’n broekspyp was om sy nek vasgemaak. Daar was vermoedelik kleefband om sy mond en oor sy neus. Venter was op daardie stadium in ’n verhouding met Oosthuizen, wat ten tyde van die aanval in die huis was.

Du Toit het verlede jaar getuig die ses het beplan om by Venter se huis in te breek en geld te steel. Joubert en Du Toit het voorheen op die plaas gewerk.

Die ondersoeker Sakkie Louwrens van die Heritage Protection Group het in September getuig oor sy ondersoek op die toneel. Sy kruisondervraging sou op Maandag 11 Maart voortgegaan het.

Miles en Johannesse is sedert hul inhegtenisname in aanhouding terwyl borgtog aan die ander toegestaan is. Johannesse is egter verlede week op borgtog van R3 000 vrygelaat, het sy regsverteenwoordiger bevestig.

Stef Kruger, Ricco en Joubert se regsverteenwoordiger, het landdros Pieter Manthata versoek dat die saak herverhoor word omdat die ondersoekbeampte glo vanuit die landdros se notas in pleks van die hofrekord getuig het tydens Johannesse se borgverhoor in Bela-Bela.

“Ek sê nie dis hierdie hof se skuld nie. Ek dink net dit is hoogs onreëlmatig dat die landdros se notas aan die staat bekend was. Ek versoek dat die saak van voor af aangehoor word.”

Manthata het gesê dat hy die transkripsie van die borgaansoek sal aanvra sodat hy kan sien of die saak daardeur geraak sal word. Hy het die saak tot Dinsdag 9 April uitgestel om oor Kruger se aansoek te besluit.

Related Articles

Back to top button