CrimeNews

Veediewe bedrywig in Mookgophong-omgewing

“Dit lyk asof die diewe gewag het totdat ons die dag se werk afgehandel het, en toe die hek se slot gebreek en die beeste in die drukgang gelaai het. Dit is geweldige groot skade.”

Veediewe is die afgelope paar maande in die Mookgophong-omgewing bedrywig en het op verskeie plase in die Roedtan-omgewing toegeslaan en beeste gesteel.

Volgens een van die boere, Lou Fourie, wie se plaas sowat 8 km buite die dorp op die Constantiapad geleë is, het diewe op Donderdag 14 Februarie vier koeie en twee kalwers gesteel. Sy kragopwekker is ook dieselfde dag gesteel.

“Dit lyk asof die diewe gewag het totdat ons die dag se werk afgehandel het, en toe die hek se slot gebreek en die beeste in die drukgang gelaai het. Dit is geweldige groot skade,” het Fourie gesê.

Daar is reeds twee keer sedert Desember 2018 by huise op die plaas ingebreek en goedere gesteel.

Volgens AO Hardus Els van die polisie se veediefstaleenheid in Modimolle het hulle ’n verdagte in die visier, maar die ondersoek is nog nie afgehandel nie. Dit lyk asof die verdagte, ’n inwoner van Mookgophong, moontlik met verskeie ander veedief-stalsake verbind kan word.

Hy is volgens Els geïdentifiseer deur ’n afskrif van ’n rybewys en identiteits-dokument wat op die toneel gevind is. Die verdagte is vroeg in Februarie ook in Polokwane in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde vee uit die Tzaneen-gebied.

Els het voorts gesê die verdagte is aan baie mense in Mookgophong bekend en dat hulle warm op sy spoor is. Hy kan egter nie sy naam bekend maak nie aangesien dit die ondersoek kan belemmer.
Hy het ’n dringende versoek tot boere gerig om hul beeste te brandmerk.

Dit vergemaklik nie net die polisie se ondersoek nie, maar help ook boere met die positiewe uitkenning van hul beeste.

Related Articles

Back to top button