CrimeNews

Trokbanddiewe slaan toe in Modimolle-omgewing

“Iets moes hulle die skrik op die lyf gejaag het, want hulle het nie al die bande gesteel nie.”

Dit lyk asof Bela-Bela se trokbanddiewe nou ook hulle visier op Modimolle gestel het.

Die nuutste teiken was die Stilhoek-boerdery,’n bekende grenadellaplaas in die Eersbewoond-omgewing wat op Sondag-aand 24 Februarie deurgeloop het.

Kobus Germishuys, voorsitter van die Kariba-buurtwag en mede-plaaseienaar, het by navraag gesê diewe het dié aand 12 trokbande met vellings gesteel.

Hy vermoed die diewe het kort ná 21:00 die aand op onverklaarbare wyse deur die plaas se elektriese heining gekom. Ondersoek toon hulle het moontlik vanaf die Eersbewoond-pad gekom.

“Iets moes hulle die skrik op die lyf gejaag het, want hulle het nie al die bande gesteel nie. Hierdie soort diefstal is ’n reuseprobleem vir ons almal,” het hy gesê. “Hierdie diewe is georganiseerd, want daar is geen aanduiding hoe laat hulle met die bande op die Eersbewoon-pad opgelaai is nie.”

Lede van die gemeenskappolisiërings-forum (GPF) gaan steeds voort met patrol-lies en veiligheid word aanhoudend in die omgewing opgeskerp.

Die Pos het verlede week ook berig oor trokbanddiefstal by André Kock en Seun-veilingkrale buite Bela-Bela waar 18 trok-bande met vellings gesteel is.

AO James Findley, Modimolle-polisie-woordvoerder, het gesê daar was nog ’n diefstalvoorval op Donderdag 21 Februarie op die Eersbewoond-pad by die voormalige Shark Village, omtrent 2 km vanaf die R33-pad na Modimolle.

“Die diewe het daar motorbande met vellings van ’n Mahindra-bakkie en ’n laaigraaf gesteel,” het hy gesê.

“Die polisie sal aanhou om die omgewing te patrolleer in samewerking met die GPF, wat baie behulpsaam is.”

Findley het ook melding gemaak van ’n voorval sowat twee weke gelede toe ’n vragmotor langs die pad na Kranskop oornag het en die bande gesteel is.

Ondersoek na die verdagtes duur voort.

Related Articles

Back to top button