CrimeNews

Talle rolspelers maak stemme dik oor dwelms

“Dit is dringend noodsaaklik dat iets aan die saak gedoen word, want dit het ’n negatiewe uitwerking op die hele gemeenskap.”

Settlers Agricultural High School (SAHS) is onder die vergrootglas geplaas nadat provinsiale departemente en die polisie onlangs bewus gemaak is van ’n vermoedelike dwelmprobleem by die skool.

Die polisie het dit bevestig, maar wou nie uitbrei nie omdat minderjariges betrokke is.

Die provinsiale departement van gemeenskapveiligheid het besluit om die bul by die horings te pak en ’n bewusmakingsveldtog op Donderdag 21 Februarie by die skool gehou. Dit was deel van die departementele kinderdagvieringe. Dié dag word gewoonlik eers in Desember gevier, maar die departement het besluit om die datum te vervroeg weens die erns van die saak.

Leerders by dié eens spoggerige landbouskool ontvang opleiding in verskeie aspekte van landbou wat saamval met die akademiese verpligtinge wat ’n nasionale senior sertifikaat vereis. Die praktiese boerderyopleiding berei hulle voor vir beroepe in die landbou.

Paul Moloto, direkteur van transformasie en spesiale programme by die departement van gemeenskapsveiligheid, het aan die leerders beklemtoon hoe belangrik boerdery vir die land se toekoms is omdat voedselsekerheid ’n wêreldwye kwelpunt is.

“As dwelmverslawing in die skool toeneem, sal dit ons land se ekonomie negatief raak,” het Moloto gesê.

Hy het voorts gesê dit is nodig dat leerders weet wat hul regte en verantwoordelikhede is.

Konst. Pieter Scheepers van die Bela-Bela-polisie se misdaadvoorkomingseenheid het gesê leerders wat verslaaf raak, ervaar veranderinge in hulself en die drang om die verslawing te onderhou lei dikwels tot diefstal en geweld.

Hy het melding gemaak van die grond-wethof se beslissing verlede jaar dat dagga nou wettig by privaat plekke gebruik mag word.

“Leerders moet egter kennis neem daarvan dat enigeen wat by openbare plekke, en veral skole, met dagga betrap word, hulle skuldig maak aan ’n ernstige oortreding en in hegtenis geneem kan word. Mense wat dagga privaat by hul wonings gebruik, moet ouer as 18 jaar wees,” het hy gesê.

Volgens hom is die meeste verslaafdes geneig om na sterker dwelms oor te skakel omdat hulle gewoond raak aan die narkotiese effek van dagga. Nyaope, ’n bekende soort heroïen-dwelm, is in die meeste gevalle die volgende stap van vergrype, het Scheepers gesê.

“Dit is baie moeiliker om heroïenverslaafdes te rehabiliteer. Statistieke toon dat slegs sowat 10% verslaafdes wat gerehabiliteer word, in staat is om 100% skoon te bly.” Hy het voorts gesê nyaope is uiters gevaarlik omdat laboratoriumtoetse al bevestig het dat huishoudelike produkte deel is van die dwelmsamestelling. Die verskaffer gebruik hierdie bykomende chemiese stowwe om die produk goedkoper te maak en hul eie winsgrens te verhoog. Selfs rotgif is al in die dwelm gevind.

“Slegs een dosis van die dwelm kan jou doodmaak, want jy weet nie wat die handelaars daarin gesit het nie,” het Scheepers gesê. “Dit is dringend noodsaaklik dat iets aan die saak gedoen word, want dit het ’n negatiewe uitwerking op die hele gemeenskap. Sowat 90% van die verdagtes wat in ons omgewing aangekeer word weens diefstal of roof, is dwelmgebruikers.”

  • Die verskillende departemente en rolspelers wat betrokke is by die projek by Settlers, sluit in die departemente van onderwys, sosiale ontwikkeling, sport, landbou en korrektiewe dienste, Youth Community on Patrol (YCOP) en die gemeenskappolisiëringsforum (GPF).

    Die personeel by die skool is dankbaar dat dié bewusmakingsveldtog soveel mense betrek wat ’n positiewe bydrae wil maak tot die leerders se welstand en toekoms. Die polisie sal intussen die dwelmprobleem by die skool moniteer.

Related Articles

Back to top button