CrimeNews

Inwoner vertel van aanval en marteling

“Hulle het binne in een van die kamers gewag voordat hulle op my toegesak het.”

’n Inwoner van Mookgophong het die afgelope week aan Die Pos vertel hoe hy tussen Saterdag 9 Februarie en Sondag 10 Februarie deur ’n groep rowers in sy huis aangeval en gemartel is.

Nick Botha (71), wat ’n herwinningsonderneming op ’n hoewe in 4de Straat buite die dorp bedryf, het Die Pos op Woensdag 20 Februarie besoek om oor die gebeure te praat.

“Ek het ná 22:00 wakker geword om tee te maak en toe ek terug is kamer toe, is ek in die gang deur die rowers oorval,” het hy gesê. “Hulle het binne in een van die kamers gewag voordat hulle op my toegesak het.”

Die rowers, wat klapmusse gedra het, het hom glo met gordyndraad vasgebind. Hy is na bewering geskop en teen die grond vasgepen. Volgens Botha het die rowers hom deur die huis gesleep en aangedring op geld.

“Sover ek kon sien, het hulle geen vuurwapens, behalwe klippe in hul hande by hulle gehad nie. Hulle het my aanhoudend geskop en my later regoor my lyf met ’n elektriese boor gemartel.”

Botha het gesê dat hy aanhoudend tot God gebid het dat die marteling moet eindig. Volgens hom het die rowers hom later die aand in een van die kamers gelos en die huis verlaat.

“Dit was lank stil en ek vermoed hulle is moontlik deur ’n voertuig opgelaai. Ek het toe na die kombuis gekruip en myself met ’n mes losgesny,” het Botha gesê.

Botha het daarna sy huis verlaat en hulp gaan soek, waarna die polisie die toneel besoek het, het hy gesê. Die polisie se spoedige reaksie was vir Botha prysenswaardig.

Die rowers het sover hy kon vasstel ’n windbuks, kontant, ’n skootrekenaar, ’n televisie, selfoon, van sy gereedskap, sy bakkie se battery en bande gesteel.

“Ek woon al 12 jaar op die hoewe en probeer ’n netjiese omgewing skep deur te herwin. Ek het baie om voor dankbaar te wees, maar die vrees en naskok is vir my baie erg,” het hy gesê.

Die Pos het navraag gedoen by die Mookgophong-polisie oor die voorval, maar volgens hulle is daar geen so ’n saak op die betrokke aand geregistreer nie.

Kobus van Loggerenberg, voorsitter van die gemeenskappolisiëringsforum (GPF) in die dorp, het by navraag gesê dat hulle bewus is van ’n insident wat op dié aand plaasgevind het, maar die detail van gebeure is steeds onduidelik. Sover hy weet is daar geen saak geregistreer nie, het hy gesê.

Botha het tydens sy besoek aan Die Pos wonde gewys wat hy volgens hom tydens die aanval opgedoen het.

Hy het kneusmerke op sy arms, bene en ribbebene gehad. Die plekke waar hy glo met die boor gemartel is, was ook duidelik sigbaar.

Die Pos het hom probeer kontak om vas te stel of hy wel ’n klag geopen het, maar hy het teen druktyd nie op oproepe gereageer nie.

Related Articles

Back to top button