CrimeNews

Diewe breek by onnie se voertuig in

“Ek dink ’n mens raak effens paranoïes as jy deur misdaad geraak is.”

Die Bela-Bela-polisie waarsku inwoners van die boonste deel van die dorp om wakker te wees aangesien diefstalle in dié omgewing toegeneem het.

Booswigte het iewers tussen Maandagaand 18 Februarie en Dinsdagoggend 19 Februarie by die Ford Figo van ’n onderwyser van Laerskool Warmbad ingebreek. Die voertuig was by die skoolkoshuis in Robertsonweg geparkeer.

Volgens die polisie het die diewe een van die voertuig se vensters oopgebreek en kontant en klere gesteel.

Die onderwyser, wat verkies om anoniem te bly, het by navraag aan Die Pos gesê sy en haar man woon sedert 2016 in die koshuis en dat hierdie die eerste keer was dat hulle deur misdaad geraak is. Niemand op die terrein het enige onraad vermoed nie.

Haar voertuig was die enigste een wat daardie aand by die koshuis geteiken is.

“Ons het ’n lugverkoeler in ons slaapkamer wat redelik raas, maar ons wil dit nie eens meer aanskakel nie, omdat ons te bang is so iets gebeur weer. Ek dink ’n mens raak effens paranoïes as jy deur misdaad geraak is.”

Dit is vir haar nog onduidelik of die diewe haar dopgehou het en of hulle dalk net opportunisties was en die skoolterrein betree het met die doel om te steel.

Sy gaan haar voertuig intussen op ’n veiliger plek parkeer, het sy gesê.

Die polisie het reeds die toneel besoek en vingerafdrukke geneem.

  • Die Tuintuiste-aftreeoord, wat teenaan die laerskool se sportterrein en direk langs die koshuis is, het ook oor die afgelope drie weke onder huisbrake deurgeloop.

    Die polisie raai inwoners aan om seker te maak dat hul eiendom veilig is en om enige verdagte optrede aan te meld. Inwoners kan gerus ook inskakel by die plaaslike gemeenskappolisiëringsforum.

Related Articles

Back to top button