CrimeNews

Bela-Bela se skietbaan loop deur onder diewe

Hulle het vermoedelik toegang tot die perseel verkry deur die elektriese heining om die terrein te beskadig.

Die Warmbad-skietbaan op die Alma-pad buite Bela-Bela het die naweek van 22-23 Februarie onder booswigte deurgeloop wat duisende rande se skade aangerig het.

Die Bosveld-jagtersvereniging se Waterberg-tak (BJV) bestuur die skietbaan en die grond behoort aan die Bela-Bela-munisipaliteit.

Jan van Blerk, voorsitter van die BJV, het by navraag gesê die bestuur het skaars drie weke gelede die dak by die onthaalgebou teen ongeveer R30 000 herstel nadat ’n erge stormwind dit vroeër afgewaai het. Die BJV se versekering het ’n bedrag uitbetaal en die tak het die bykomende koste uit eie fondse gedelg. “Die diewe het meer skade veroorsaak as wat hulle gesteel het,” het ’n onthutste Van Blerk gesê.

Hulle het vermoedelik toegang tot die perseel verkry deur die elektriese heining om die terrein te beskadig. Daarna het hulle huishoudelike toestelle en meubels in die gebou, asook nuwe sinkplate, gesteel.

Talle nasionale, provinsiale en plaaslike skietkompetisies word by die skietbaan aangebied. Selfs lede van die polisie maak gebruik van die skietbaan en wapeneienaars wat vir bevoegdheidsertifikate aansoek doen, word ook daar geakkomodeer.

Die BJV is besig om sake met hul versekeringsmakelaar uit te klaar, het Van Blerk gesê.

Hoewel die misdaad vir die BJV ’n terugslag is en groot geldelike implikasies inhou, meen die bestuur dat dit nie toekomstige skietgeleenthede sal beïnvloed nie.

’n Saak is reeds by die Bela-Bela-polisie geopen en ondersoek word ingestel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button