CrimeNews

Almal span saam om vermeende boewe se doppies te klink

“Die gemeenskap het briljant saamgewerk. Elkeen het presies geweet wat hulle moet doen en hulle het baie professioneel opgetree.”

Twee vermeende inbrekers het tevergeefs kilometers ver gehardloop om inwoners wat op hul spoor was te probeer ontglip.

Goeie samewerking tussen verskillende veiligheidsgroepe en die polisie het egter die twee se doppies geklink.

’n Wakker inwoner van Modimolle het op Woensdag 13 Februarie teen ongeveer 10:00 alarm gemaak omdat die mans se buit, wat twee kinderfietse en ’n plasmatelevisie ingesluit het, verdag voorgekom het.

Volgens AO James Findlay, woordvoerder van die polisie, het die mans die gesteelde items in die Jasper-omgewing laat val en al langs die treinspoor in Mookgophong se rigting laat spaander.
’n Grootskeepse soektog het gevolg en hulp het van oral ingestroom.

“Die gemeenskap het briljant saamgewerk. Elkeen het presies geweet wat hulle moet doen en hulle het baie professioneel opgetree,” het Findlay gesê.

’n Hommeltuig, ’n vaste-vlerkvliegtuig en ’n helikopter het aan die soektog deelgeneem.

“Die eerste man is net ná 15:00 ongeveer 23 km buite die dorp op die N1-Noord in Mookgophong se rigting vasgetrek. Dit het gevolg nadat die helikopter hom gevolg, naby hom geland en ’n man uitgespring het om hom plat te trek,” het Findlay gesê.

Die goedere wat die twee mans laat val het voordat hulle op die vlug geslaan het, is volgens Findlay gesteel tydens ’n inbraak by die Boschoek-berglandgoed tussen Modimolle en Alma.

Daar was glo die afgelope ruk verskeie inbrake in dié gebied. Die twee mans kan moontlik ook verbind word met inbrake in die Tuinplaas-omgewing, het hy gesê.

  • Alberto Chauke (31), ’n Mosambieker, en Jerry Sithole (21), ’n Zimbabwiër, het die afgelope week in die hof in Modimolle verskyn op aanklagte van huisbraak, het Findlay bevestig.
    Die groepe wat deelgeneem het aan die soektog sluit in die gemeenskapspolisiëringforums (GPF) van Modimolle en Bela-Bela, die Makanyane-teenstropingseenheid, die Wasps-veiligheidsgroep, die Modimolle-polisie en verskeie inwoners.

Related Articles

Back to top button