CrimeNews

Sielkundige wen sake teen polisie oor onregmatige inhegtenisname

“My hele lewe is omvergegooi. Nie net het my praktyk skade gely nie, maar ook ek as persoon.”

“My naam kan nou in ere herstel word.”

Dít was die verligte reaksie van dr. Henry Haynes, kliniese sielkundige van Modimolle, nadat hy twee sake teen die polisie gewen het. Hy is in 2017 onregmatig in hegtenis geneem. Die Modimolle-landdroshof, sowel as die siviele hof, het in twee afsonderlike sake einde verlede jaar en verlede week in sy guns beslis.

Haynes en Emmanuel Davel, wat as kliniese sielkundiges op dieselfde perseel in Modimolle gepraktiseer het, is in September 2017 in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog nadat ’n werk-nemer van die Raad vir Gesondheids-beroepe (RGB) die praktyk besoek, en glo bevind het dat Haynes nie by dié raad geregistreer is nie.

Hoewel Haynes glo aan hom sy registrasiesertifikaat gewys het, het die amptenaar dit glo van die hand gewys, die polisie laat kom en daarop aange-dring dat Haynes én Davel in hegtenis geneem word. Daar is ook op van Haynes se leêrs beslag gelê.

Volgens Carel Taute, Haynes se regsverteenwoordiger, is sy kliënt by die Suid-Afrikaanse Raad vir Natuurlike Gesondheidspraktisyns geregistreer en Davel by die RGB.

Tydens hul inhegtenisname was Haynes met ’n jong pasiënt in konsul-tasie wat die voorval moes aanskou.

Haynes is gedagvaar om in Julie verlede jaar in die hof in Modimolle te verskyn. Twee werknemers van die raad het in die loop van die saak teen hom getuig.

Die afgelope week het die hof Haynes egter vrygespreek in die strafsaak. Hy het die siviele saak teen die Minister van Polisie vir onregmatige in hegtenisname einde verlede jaar gewen.

“Ons het reeds die RGB in kennis gestel daarvan dat ons regstappe teen hulle neem vir kwaadwillige vervolging en laster,” het Taute gesê.

Die raad het in ’n mediaverklaring na Haynes, Davel sowel as ’n vrou in Maimela in Limpopo wat glo opleiding as verpleegster ontvang het maar haarself as ’n mediese dokter voorgedoen het, as “bogus doctors” verwys. Daar is wyd in die media daaroor berig.

Volgens Haynes se sertifikaat van die Suid-Afrikaanse Raad vir Natuurlike Gesondheidspraktisyns is hy in 2014 as kliniese sielkundige geregistreer en mag hy praktiseer ingevolge artikel 4 van die Wet op Tradisionele Praktisyns, wet no. 35 van 2004.

“My hele lewe is omvergegooi. Nie net het my praktyk skade gely nie, maar ook ek as persoon. Mense het my as ’n krimineel beskou en gesê ek het bedrog gepleeg,” het Haynes die afgelope week aan Die Pos gesê. Hy het gesê dat rolle die afgelope jaar omgeruil was — diegene vir wie hy in sy praktyk deur hul moeilike tye gehelp het, het hom ná die voorval met gebede en ondersteuning gedra. “Baie dankie vir die gemeenskap se lojaliteit en ondersteuning. Dit was oorweldigend,” het hy gesê.

Davel en die ouer van die kind wat Haynes se inhegtenisname moes aanskou, het aan Die Pos bevestig dat hulle ook verdere regsaksie teen die polisie en die RGB beoog.

  • Teen druktyd het nie die polisie of die RGB kommentaar gelewer nie.

Related Articles

Back to top button