CrimeNews

Diewe steel 18 trokbande

Net toe Bela-Bela se inwoners begin dink dat motorbanddiefstal nou iets van die verlede is, het booswigte die afgelope naweek weer met mening toegeslaan.

Die personeel van André Kock en Seun-veilingkrale buite Bela-Bela krap nog kop oor hoe trokbanddiewe tussen Sondag en Maandag 17-18 Februarie oornag met ongeveer 18 trokbande verdwyn het.

Volgens Paul van Vuuren (jnr.), afslaer, het die booswigte die heining om die perseel geknip en só toegang tot die perseel verkry. Die bande is toe van sleepwaens en trokke, wat aan die onderneming behoort en op die perseel gestaan het, gesteel.

“Dit is ’n raaisel hoe hulle al daardie bande in een aand kon steel, want hulle moes baie hande nodig gehad het. Inwoners moet asseblief laat weet as hulle enigiets verdags opgemerk het, sodat hierdie ouens aangekeer kan word,” het van Vuuren gesê.

Die skade word beraam op R100 000. Al die bande is intussen vervang en sake by die veilingkrale gaan voort soos normaal, het Van Vuuren gesê.

’n Diefstalsaak is by die Bela-Bela-polisie geopen.

  • Bela-Bela het sedert Julie 2018 kwaai deurgeloop onder voertuig- en trokband-diefstalle.

    Twee vervoerkontrakteurs, Danie van der Westhuizen (36) en sy pa, Hardus (58), albei van Roodekuil buite Bela-Bela, is in Novem-ber verlede jaar in hegtenis geneem nadat die polisie tydens ’n ondersoek beslag gelê het op vermoedelik gesteelde trokbande, voertuigonderdele en ses beeste.

    Hardus is egter op Woensdag 5 Desember onder raaiselagtige omstandig-hede in ’n Mokopane-hospitaal oorlede nadat hy glo erg aangerand is.

    Danie is kort daarna in hegte-nis geneem en aangekla van moord.

    Die Bela-Bela-landdroshof het Danie aanvanklik op R1 000 borgtog vrygelaat op diefstal-aanklagte.

    Borgtog van R5 000 is aan hom toegestaan op die moordklag.

    Sy prokureur het tydens ’n vorige verskyning van die saak onttrek waarna die hof Danie die geleentheid gegee het om nuwe regshulp in te win.

    Sy laaste verskyning op die diefstalaanklagte was op Vrydag 15 Februarie, waarna die saak na Vrydag 1 Maart uitgestel is sodat afskrifte van die ondersoekverslag by die hof ingedien kan word. Hy verskyn dieselfde dag op die moordklag.

    Sy borgtog is verleng.

Related Articles

Back to top button