CrimeNews

Nóg hartseer vir gesin ná ontploffing in Jemen

Die gesin van Pieter Schoeman, die bomdeskundige van Modimolle wat in Januarie dood is in ’n landmynontploffing in Jemen, het vandeesweek weer hartseer nuus ontvang.

Schoeman se stiefpa, Gene Andrione, wat in sy sewentigs is, is ná ’n lang siekbed oorlede. Andrione, van Pretoria, was baie verswak na ’n operasie en het nie geweet van Schoeman se dood nie. Hy was getroud met Wilna Adrione, wat voorheen in Modimolle gewoon het.

Die 45-jarige Schoeman is een van twee Suid-Afrikaners wat dood is nadat landmyne wat ’n internasionale groep van vyf bomdeskundiges vervoer het om te gaan vernietig, op Sondag 20 Januarie ontplof het. SafeLane Global, die maatskappy waarvoor Schoeman gewerk het, verwyder landmyne in Maa’rib aan die grens tussen Jemen en Saoedi-Arabië en stel dit onskadelik.

Schoeman se vrou, Nandi, sy twee seuns, Morné en Donovan, sy ma Wilna en Nandi se suster Annemarie Findlay het die hartseer nuus van Adrione se afsterwe op Dinsdag 5 Februarie ontvang terwyl hulle in Jemen was om ’n eerbewys wat die Saoedi-Arabiese regering aan die slagoffers gegee het, te ontvang. SafeLane Global het gereël dat sy familie die geleentheid in Riaad bywoon.

Hoewel Schoeman se oorskot uitgeken is, is dit nog nie duidelik wanneer hy na Suid-Afrika gebring sal word nie omdat daar aan sekere wetlike aspekte voldoen moet word, het Nandi gesê.

Related Articles

Back to top button