CrimeNews

Egpaar in hof oor beweerde bedrog

’n Egpaar van Bela-Bela is in die sop oor beweerde bedrog.

Die saak teen Rick (31) en Mandie (31) Botha spruit uit beweerde diefstal van honderde duisende rande vanuit die Stilhoek- boerdery,’n grenadellaplaas op die Eersbewoonpad, se rekenings.
Volgens kapt. Dolf Smith, ondersoek-beampte, word die egpaar daarvan verdink dat hulle oor ’n tydperk R401 813,22 van die onderneming gesteel het.

Stilhoek-boerdery, met sy uitgebreide ondernemings en boerderye, behoort aan die Germishuys-familie. Die ondernemings word bestuur deur Kobus Germishuys, voorsitter van die Kariba-buurtwag, sy pa, Kobus snr. en sy broer, Pieter.

Volgens Smith was die Botha-egpaar in diens van die boerdery-onderneming.

Die aanklagte teen die Bothas hou verband met beweringe dat hulle glo bankrekenings geskep het vir plaaswerkers, maar die geld vir eie gebruik aangewend het.

Die egpaar is in Oktober 2018 in hegtenis geneem en het daarna vlugtig in die Bela-Bela-landdroshof verskyn. Die hof het borgtog van R2 000 aan albei toegestaan.

Hulle het weer op Donderdag 31 Januarie verskyn, waarna die saak na die streekhof in Modimolle oorgeplaas is. Die Botha-egpaar verskyn weer op Woensdag 27 Februarie in Modimolle. Hulle borgtog is verleng.

Related Articles

Back to top button