CrimeNews

Moenie banksake telefonies uitblaker

Een slagoffer is R80 000 armer nadat hy met so ’n slenter gevang is.

Moenie enige banksake of aankope oor die telefoon doen nie, is die dringende waarskuwing van die polisie op Modimolle.

Verskeie inwoners is die afgelope drie maande derduisende rande kwyt nadat bedrieërs hulle slinks oortuig het om hul bankbesonderhede oor die telefoon te gee. Een slagoffer is R80 000 armer nadat hy met so ’n slenter gevang is.

Die bedrieërs, wat baie oortuigend en professioneel klink, het glo in talle gevalle voorgegee dat hulle van Absa se bedrog-eenheid is en gesê dat daar verdagte aktiwiteite op die slagoffer se rekening is wat hulle ondersoek. Hulle vra dan die bankkliënt om sy of haar besonderhede te bevestig of om die inligting wat hy of sy per SMS ontvang, terug te lees. Soms sluit die inligting die geheime kode (OTP) in wat kliënte per SMS ontvang om hul identiteit te bevestig om verder aanlyn sake te doen. Daarmee in hul besit kan bedrieërs oorplasings vanaf ’n rekening maak.

Daarna vra hulle dat mense hul selfone af- en weer aanskakel.

“Sodra die selfoon weer aan is, kom die bankboodskappe deur dat daar geld uit die rekening onttrek is. Dit is dan te laat,” het AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, gesê.

“Sodra die geld onttrek is, word dit in ander rekenings inbetaal, die geld word dan onttrek en dit is baie moeilik om die skuldiges op te spoor,” het Findlay gesê.

Hy het slagoffers gevra om sulke voorvalle by hul naaste polisiestasie aan te meld. Moet egter geen inligting telefonies bevestig of uitgee nie,” het hy gewaarsku.

Related Articles

Back to top button