CrimeNews

Herken jy dalk van hierdie items?

Daar was verskeie items in die stoor wat vermoedelik gesteel is. Dit sluit onder meer in kragopwekkers, baie gereedskap, sonpanele, sonkragbatterye, boorgatpompe, tuingereedskap en selfone. Daar is ook beslag gelê op daggastruike wat daar geplant is.

Die Modimolle-polisie en die gemeenskapspolisiëringforum (GPF) se sektor drie se patrollies op plase het op Vrydagnag 11 Januarie vrugte afgewerp toe ’n verskeidenheid gesteelde goedere op ’n plaas in die Middelfontein-omgewing ontdek is.

Benewens die patrollies, het die span ook voertuie voorgekeur en deursoek.

In die Middelfontein-omgewing het hulle plase wat onbewoon is deursoek en dit is daar waar ’n verdagte in ’n stoor vasgetrek is. Daar was verskeie items in die stoor wat vermoedelik gesteel is. Dit sluit onder meer in kragopwekkers, baie gereedskap, sonpanele, sonkragbatterye, boorgatpompe, tuingereedskap en selfone. Daar is ook beslag gelê op daggastruike wat daar geplant is.

Norman Modise, ’n Suid-Afrikaanse burger, is in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom. Hy het vandeesweek in die hof verskyn.

“Enigeen met inligting of wat van die items herken, moet asseblief die stasie besoek en met AO Pieter Booyse praat,” het AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, gesê.

“Ons het elke maand ’n aantal landelike veiligheidsoptredes in samewerking met die GPF, wat die gebied deurentyd patrolleer. Daar is ’n duidelike afname in misdaad in die gebiede waar die GPF aktief is,” het hy gesê.

  • Die Modimolle-polisie het die naweek heelwat mense vasgetrek vir dronkbestuur en ’n groot hoeveelheid verbode immigrante is ook in hegtenis geneem.

Related Articles

Back to top button