CrimeNews

Geen huisbrake in Bela-Bela oor feesseisoen aangemeld

“Inwoners moet steeds op hul hoede wees en enige verdagte persoon of aktiwiteit aanmeld. Ons hoop om vanjaar verder aan ons suksesse te bou deur die gemeenskap te dien en te beveilig.”

Volgens die Bela-Bela-polisie is geen inbrake oor Desember en die eerste week van Januarie in die woongebied in die dorp aangemeld nie.

Die Bela-Bela-township was egter nie so gelukkig nie. Volgens die polisie het verskeie drankverwante misdade daar plaasgevind en inwoners van die Eersbewoon-omgewing buite die dorp, asook lodges, het deurgeloop.

Kol. Lindie Marx, Bela-Bela-polisiestasiebevelvoerder, het die dorp se gemeenskappolisiëringsforum (GPF) geloof omdat die lede selfs oor die feesseisoen gereeld gepatrolleer. Die polisielede wat oor die feesseisoen aan diens was, het ook hul kant gebring, het sy gesê.

Natasja Kemp, GPF-sekretaresse, het gesê die plaaslike veiligheidsreaksiespan (RSRT) gaan steeds voort om daagliks patrollies te ry.

“Inwoners moet steeds op hul hoede wees en enige verdagte persoon of aktiwiteit aanmeld. Ons hoop om vanjaar verder aan ons suksesse te bou deur die gemeenskap te dien en te beveilig,” het sy gesê.

Volgens die polisie het dié daling in misdaad beslis te doen met die inhegtenisname verlede jaar van sekere verdagtes.

Die hofsake van Steve Maluleka, Kobus Pholoba en Shimane Monageng, vermeende inbrekers tussen die ouderdomme 19-28, is intussen na die Modimolle-streekhof oorgeplaas.

Die drie word verbind met meer as 30 inbrake in die omgewing. Hulle is in Junie verlede jaar inhegtenis geneem, het Die Pos vroeër berig.

Hoewel Monageng ’n opgeskorte vonnis opgelê en vrygelaat is, is hy wéér op soortgelyke aanklagte aangekeer.

Al drie is steeds in aanhouding.

  • Drie ander verdagtes, Jacob Lesiba Kgosana (43), Lebitsi Victor Lebelo (46) en Khomotso Sebbey Mokebe (34), het ook in Desember in die hof verskyn nadat hulle glo ’n vrou op die Thabazimbi-pad naby Rooiberg beroof en na Bela-Bela gevlug het.

    Die verdagtes het glo die polisie op Woensdag 5 Desember probeer ontduik en skote op beamptes afgevuur toe hulle in hul BMW probeer vlug het, het die polisie destyds gesê. Niemand is beseer nie, maar ’n polisievoertuig is raakgeskiet.

    Die verdagtes het vermoedelik die padoppervlak in Mentzlaan onderskat en teen ’n hoë snelheid met ’n boom kennis gemaak, waarna hulle te voet gevlug het, het Die Pos vroeër berig.

    Die drie is spoedig aangekeer, maar daar was gerugte dat daar ’n vierde verdagte was wat nie aangekeer is nie.

    Die polisie het ’n gesteelde selfoon wat aan die vrou behoort het, teruggevind asook ’n mes, maar geen vuurwapen nie.

    Die drie het in die feesseisoen agter tralies deurgebring, waarna hul hofsaak vanaf Bela-Bela na die Thabazimbi-landdroshof oorgeplaas is.

Related Articles

Back to top button